Local sportSport

KYK: Kempie (17) is Afrika-skaakkampioen

Sy is nou die Women International Master. Slegs sowat 13 Suid-Afrikaanse vroue het dié titel.

Anika du Plessis (17) van Hoërskool Kempton Park het koning van die skaakbord gekraai by die African Youth Chess Championships in Desember in Giza, Egipte.

Met 16 stukke en ’n swart en wit geruite bord, het Anika skaakmat vir opponente van regoor Afrika gesê. Soveel so dat sy nou die Women International Master-titel tot haar skaakammunisie kan voeg.

Slegs sowat 13 ander Suid-Afrikaanse vroue spog met die titel.

Om só eer te verwerf is nie sommer speletjies nie. Anika oefen vir sowat twee ure per dag aan haar spel. Dit is wel nie net haar brein wat moet fiks wees nie.

“Meeste mense glo dit nie, maar ons moet fisies ook fiks wees. Ons moet stamina hê om vir vyf ure op een spel te kan konsentreer.”

Tog sê Anika dat skaak nie ’n sport is nie.

“Dit is ’n kuns. Sport gaan net oor die kompetisie. Skaak leer jou meer oor mense en jouself. Dit berei jou voor vir die lewe.”

Hierdie kuns het sy al reeds op ’n jong ouderdom bemeester. Toe haar skaak- en netbaltye in graad vyf gebots het, het haar ouers haar aangemoedig om eerder skaak te speel. Min het hulle geweet dat hul dogter nog dieselfde jaar SA-kleure sou verwerf, nietemin sewe jaar later ’n meester word nie.

Sy is miskien ’n meester, maar Anika is bowenal beskeie.

“Ek geniet skaak omdat dit vir my uiting gee vir dit wat ek nie kan sê nie. Ek is nogal ’n introvert.”

Maar Anika kom allesbehalwe skaam voor wanneer sy oor skaak praat en al die deure wat dit al vir haar oopgemaak het.

Laasjaar was sy in Indië en Urugauy, en die jaar voor dit in Slowakye. Skaak het haar ook voorgestel aan mense van Namibië, Algerië, Egipte en selfs Angola.

Anika is duidelik lief vir hierdie spel. Haar oë glinster wanneer sy oor haar gunsteling-skaakstuk praat: “Die perde, hulle is so oulik!”

Hierdie matriekleerder sit nie net voor die skaakbord nie. Vanjaar het sy haar hande vol met vakke soos fisiese wetenskap, lewenswetenskappe en rekeningkunde.

Sy droom om volgende jaar BSc statistiek en genetika te studeer.

En in haar vryetyd? “Dan speel ek nog skaak!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button