’n Inwoner van Brakpan is die eerste personeellid wat 20 jaar ononderbroke diens by die Valke-rugbyfamilie voltooi het.
Johann van den Berg het op 2 Februarie ’n herdenkingskild van die Valke Rugby-unie tydens ’n funksie by Barnardstadion, ontvang.
Jurie Coetzee, hoof uitvoerende bestuurder van die Valke Rugbymaatskappy, het die skild aan Van den Berg oorhandig.
Coetzee het hom vir sy getroue diens bedank en voorspoed vir die toekoms toegewens.
Van den Berg se lang Valke-loopbaan het in September 1989 begin. Piet du Randt, die president van die destydse Oos-Transvaal Rugby-unie, het hom genader om by die unie betrokke te raak as voorsitter van die fasiliteite-komitee.
Hy het dié pos tot Januarie 1998 beklee.

André Watson, destydse hoof uitvoerende bestuurder van die unie, en Ben Erwee, wat toe president was, het hom die volgende maand as faktotum van die unie aangestel. Dié titel is in 1999 deur Willie Marais na stadionbestuurder verander – ’n pos wat Van den Berg vandag nog beklee.
“Gedurende hierdie tydperk was ek ook betrokke by Brakpan en Springs se rugbyklubs. By Brakpan het ek verskeie poste beklee, naamlik speler, junior keurder, sportorganiseerder, o-19 en o-20 afrigter, eerstespan-spanbestuurder, klubkaptein en ondervoorsitter.”
By Springs was hy ook eerstespan-spanbestuurder, voorsitter, stadionbestuurder, o-19, o-20 en o-23 keurder, eersteligaskeidsregter en senior spanbestuurder saam met Pieter de Villiers vir 54 wedstryde.
As stadionbestuurder was Van den Berg betrokke by die aanbied van verskeie groot wedstryde, waaronder Vodacombeker, Curriebeker (toe al 14 provinsies nog vir die beker gespeel het), die Superrugby wedstryd tussen die Bulls en Brumbies, internasionale wedstryde tussen die Valke en Skotland, Wallis en Engeland, asook Suid-Afrika A teen Argentinië A.
Vir hom was die kersie op die koek die toets op Pam Brinkstadion tussen die Springbokke en Argentinië.
“My loopbaan tot dusver by die provinsie strek dus effektief oor ’n tydperk van 28 jaar en vier maande en ‘still going strong’,” het hy gesê.
