School sportSport

Kruinies, Impies en Edlenertjies hou atletiek

Die skare se kameras het behoorlik geflits toe die opgewonde kinders met hul optogte begin.

’n Bewolkte Saterdagoggend kon ouers en hul Graad R kinders van Laerskole Edleen, Impala en Kruinsig nie keer nie om die jaarlikse tjokkeratletiek by te woon.

Dit was die Kruinies se beurt om gasheer te speel vir dié prettige dag, waar klein atlete net vir die lekkerte kon hardloop. Honderde ouers, boeties en sussies en selfs ’n ouma en oupa of twee het op die pawiljoen saamgedrom teen die koue om hul klein tjokkertjies te sien hardloop.

Die toeskouers se kameras het behoorlik geflits toe die opgewonde kinders met hul optogte begin.

Hier is nog foto’s van die dag se pret

Die Stralejakkers van Impala het eerste ingekom. Hul vyf dirigent-seuntjies het helderooi Ferarri-oorpakke aangehad, terwyl die vyf dirigent-meisies rooi rompies gedra het. Die res van die skool, ook in rooi, het geruite vlaggies gewapper.

Volgende was die Edlenertjies. Hul ses spoggerige dirigente het blinkgroen en silwerpakke aangehad. Op hul koppe was silwer antennas, wat hul nes goggas laat lyk het. Die res van die skool was in groen hemde en pette geklee.

Laaste om verwelkom te word was die Kletskousies van Kruinsig. Dié se dirigente was lewensredders geklee in rooi en wit met selfs ’n fluitjie om die nek. Hulle het ook selfgemaakte branderplanke gedra. Die res van die skool was in blou en pienk.

Nadat die drie skole hul krete geskree het, is hulle na die rugbyveld waar The Clamber Club gesorg het vir vermaak. Hiér het hulle hulsef gate uit geniet. Groepies kinders het aan hindernisbane, sakspring en selfs toutrek deelgeneem.

Na hierdie pret het die 60m begin. Gelukkig het die atlete nog hope energie gehad en hulle het volstoom gehardloop. Hier en daar het een in die verkeerde baan gehardloop of selfs omgeval, maar hiér het pret koning gekraai.

Skoolhoof van Kruinsig, Johan Kruger, het aan Kempton Express gesê dat ouers nie nou al moet verwag dat hul kinders wafferse atlete moet wees nie. “Die kinders moet dit net geniet.”

Dié hardlopertjies het dit veral geniet toe hulle sien dat elkeen by die eindstreep ’n medalje ontvang. Op dié dag was pret die enigste wenner.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button