KYK: Valke-akademie verhuis na kerkgronde in Van Riebeeck Weg
Die akademie het 'n vyf jaar kontrak met die Baptistekerk in Kempton Park.
Die Baptistekerk Kempton Park se teologiese sentrum in Van Riebeeck Weg 85 huisves nou gemeentelede van ’n ander soort.
Die Valke Rugby Factory, wat ‘n assosiasie met die Valke Rugby-akademie het, sal hier oefen, klas hê en sommiges sal selfs hier woon.
Volgens die Valke Factory se direkteur van rugby, Arno Kilian, het die akademie ’n vyf jaar kontrak met die kerk om die perseel te huur. Die ruim erf het klaskamers, waar die aspirantspelers meer oor hul geliefde sport leer, koshuiskamers waar van die spelers woon, en ’n eetsaal. Hier was die seuns gesellig besig om aan middagtete te smul toe Express besoek afgelê het.
Oor sowat ses weke sal die Valke nog ’n element tot hul akademie kan toevoeg; ’n splinternuwe rugbyveld. Waar daar nou net geslope grond lê, sê Kilian dat ’n volledige speelveld, met spreiligte en al, tot die spelers se beskikking sal wees.
“Die ouer spelers sal die veld gebruik om spelers van onder ses tot onder agt af te rig,” het hy bygevoeg.
Hierdie projek het hom sowat R300 000 uit die sak gejaag.
“Ons wou nie net ’n stuk gras plant en hoop vir die beste nie. Ons het planne laat optrek en saam met siviele ingenieurs gewerk,” het Kilian gesê. Volgens hom bevorder die akademie se opset samesyn onder die spelers.

“Hulle leer saam, oefen saam en woon saam.”
Die spogveld sal wel geen pawiljoene kry nie. Toeskouers kan liefs op die graswalle, wat reeds bestaan, sit. Kilian noem dit die “old-school” gevoel. Langs die toekomstige veld is klimrame waar kleuters kan speel en daar is groot bome vir skadu.
Kniehoogte ganse loop met trots op die grond rond; miskien om besoekers te herinner dat die kerkgronde heel eerste hulle tuiste was.
