Oupa (63) spring tot gouemedalje by meestersatletiek
Meestersatletiek hou die oupa van vyf jonk.
Hoogspringer en afrigter Peet Grové (63) van Glen Marais het Kempton Park se naam hoog gehou by die onlangse Suid-Afrikaanse Meesterskampioenskappe in Bloemfontein. Vier-honderd-twee-en-veertig atlete van regoor Suid-Afrika en Namibië het hier bymekaar gekom.
Grové het sy plek verseker nadat hy by die Sentraal-Gautengkampioenskappe op 7 April in Germiston eerste in sy ouderdomsgroep gekom het. Dít met ’n persoonlike beste sprong van 1.40m.
By die SA’s het hy ook nie met sy sprong van 1.36m teleurgestel nie. Hiérmee het hy weer eerste plek in sy afdeling, mans tussen 60 tot 64, opgeraap.
Hoogspring, sê hierdie oupa van vyf kleinkinders, hou hom jonk en gesond.
“Wanneer ’n mens ouer word en nie meer fisiese oefening op ’n gereelde basis doen nie, verswak jou spiere teen ’n skokkende tempo. Wanneer jy aktief betrokke is by atletiek en aan byeenkomste deelneem, besef jy baie gou hoe noodsaaklik dit is.”
Die kampioenskappe, volgens Grové, behels alle normale atletiekitems. Die enigste verskil is dat die deelnemers ouer is. Vroue moet minstens 30 jaar oud wees en mans 35.
“Die oudste vrou was 94 en sy het aan die vyf kilometer stap deelgeneem. Die oudste man was 83 en het aan die 100m en 200m deelgeneem.”
Grové meen dat meestersatletiek beoefen word deur mense wat ’n liefde vir atletiek het. “Meestersatlete is soos ’n groot familie waar almal dieselfde belangstelling het en byna almal mekaar ken.”
Die enigste vereiste om deel van dié familie te word, is lidmaatskap by ’n geregistreerde klub, sowel as affiliasie met Atletiek Suid-Afrika, sê Grové.
“Daar is geen beter tyd as nou om te begin nie.”
So, wat lê volgende vir Grové voor? Die kersie op die koek vir hom sal wees om vir nasionale kleure te kwalifiseer.
“Ek het op skool gesien hoe ’n Springbokatleet haar groenbaadjie ontvang en dit het ’n baie groot indruk op my gemaak. Daar is min sporte waar ek op my ouderdom nog nasionale kleure kan verwerf.”
