Local sportSport

KYK: Kempton Park het sowaar sy eie Popeye (18)

En sy boodskap aan die wat gesê het hy sal onsuksesvol wees?

Toe ’n plaaslike groenoog seun sy hoërskoolloopbaan in 2013 aangedurf het, was hy een van die kleinste Graad Agts in sy skool. Vandag, vyf jaar later, is Ludwig de Bruin (18) ’n spiertier van formaat, want hy het geweier om na diegene te luister wat nie in hom geglo het nie.

“My hele lewe lank het mense vir my vertel ek sal nie my drome kan bereik nie, want ek was baie maer,” vertel die Hoërskool Kempton Park matriekleerder.

Hy leun vorentoe, sy armspiere duidelik sigbaar onder ’n ligte pienk T-hemp. By sy voete speel ’n Duitse herdershondjie, Zeus. Hy lyk skoon miniatuur in sy sterk baas se skadu.

Dit is maklik om te sien waarom De Bruin onlangs die o-18 afdeling van die Gauteng beginner-liggaamsboukompetisie gewen het, al was dit die eerste keer wat hy aan so ’n kompetisie deelgeneem het.

Die reis na sy prysenswaardige spiere was natuurlik nie maklik nie. Hiervoor het hy vyf jaar lank gewerk. Daagliks, na skool en huiswerk, oefen hy vir ’n uur en ’n half. Daarna word sy liggaam geassesseer vir 30 minute, gevolg deur 30 minute se kardio-oefening. Dit doen hy ses dae ’n week.

Lees ook:

Pomona bodybuilder gets 6th place at WFF world championships

Hierna mag De Bruin nie beloon word met ’n heerlike bord kos nie. Nee, slegs vis en groente vir hom. Al waaraan hy mag smul is ’n klein bietjie grondboontjiebotter.

Tog is De Bruin passievol oor sy leefstyl. “Toe ek die eerste keer in ’n gim instap het ek besluit dit is vir my lekker,” vertel hy. So lekker dat hy, indien hy nie ’n argitek word nie, hieruit ’n beroep wil maak.

“Ek wil Mnr Suid-Afrika word en, uiteindelik, Mnr Heelal.”

Om hierdie rede is sy held die liggaamsbouer Arnold Schwarzenegger, wat sewe keer die Mnr Olympia-titel gewen het.

Ten spyte daarvan dat dit De Bruin (18) se eerste liggaamsboukompetisie was, het hy steeds met die beker weggestap.

“Sy gene was miskien nie so goed nie, maar hy is bewys dat harde werk die beste bly.”

De Bruin se eerste stap na Schwarzenegger se vlak van sukses is om oor sewe weke aan die Boksburg Classic deel te neem. Daarna neem hy op 16 Augustus deel aan die provinsiale ronde. As hy daar eerste of tweede plek behaal, kan hy sy SA kleure ontvang.

Die sterkman se raad aan ander wat dieselfde leefstyl wil bereik is om “slegte dinge te los en net by die goeie te hou”.

En sy boodskap aan die wat gesê het hy sal onsuksesvol wees? “Dankie dat jy dit vir my gesê het. Kyk waar staan ek nou.”

Ludwig De Bruin saam met sy pa vyf jaar gelede. Min het die Graad Agt-leerling geweet hoe sy toekoms, of eerder hoe hy in die toekoms sou lyk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button