Local sportSport

Kempton Park se ringbalmans is klubkampioene

In die vroue-finaal was Alberton en Birchleigh kop aan kop.

Spoed, tegniek en taktiek. Dié eienskappe het Saterdagmiddag op die ringbalbane in Pienaarlaan geseëvier. Spanne van regoor Ekurhuleni-Noord het hul beste voetjie voorgesit om as ligawenners weg te stap.

Die Kempton Park A1 manspan het gesorg dat dié titel tuis bly. In ’n aksievolle eindstryd teen Elsburg het die swart-en-geel-span die groenes kafgedraf . Die twee spanne was kop aan kop, maar uiteindelik het die spel in Kempton se guns gedraai met ’n telling van 68-54.

In die vrouefinaal het Alberton A en Birchleigh se Ukhozi A1 vir naelbytspel gesorg wat die skare op die rand van hul stoele gehad het. Alberton het gesorg dat hulle eerste plek by Ukhozi afvat met ’n telling van 56-48.

Die mans- en vrouewenners dring nou deur na die provinsiale proewe, wat volgende week op die Wes-Rand gehou word. Dáár sal die uiteindelike ringbalkampioene aangewys word.

Kyk hier na nog foto’s

Volgens getroue ringbalspeler Julie-Anne van Niekerk is hierdie sport vir almal.

“Vandag het ons spelers van o-11 tot seniors,” het sy langs die baan aan Express gesê. “Dit is ’n familiesport, dit is wat dit so lekker maak.”

Hiervan het die stampvol pawiljoene en grasperke om die ringbalbane getuig, waar oud en jonk toegekyk het hoe hul familielede speel.

Twee van dié toeskouers en Kemptonspelers was Du Randt Jansen van Rensburg (10) en Ewald Muller (12).

“Ringbal is lekker, want jy hardloop meer as wat jy stilstaan,” het Jansen van Rensburg aan Express gesê.

“En dit hou jou fiks,” meen Muller.

Albei seuns neem al twee jaar aan dié sport deel nadat beide se sussies daarmee begin het. Miskien sal hierdie kranige spelertjies sorg dat Kempton Park elke jaar die titel opraap.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button