Kempie-man gaan jeugatlete na Algerië vergesel
Vermaas is as worpe-afrigter genomineer om die Suid-Afrikaanse jeugatletiekspan na Algerië te vergesel.
Eben Vermaas, atletiekorganiseerder van Hoërskool Kempton Park, is deur die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) as worpe-afrigter genomineer om die Suid-Afrikaanse jeugatletiekspan van 18-28 Julie na Algiers, Algerië, te vergesel.
Dié besondere eer het hom ook reeds twee keer tevore te beurt geval toe hy in 2016 en 2017 nasionale spanne na onder meer Angola en Algerië vergesel het.
Sy insluiting is geen verrassing nie, aangesien verskeie van sy atlete reeds vanjaar hul merk op provinsiale- en nasionalevlak gemaak het.
Hy is sedert 2006 aktief by skole- en klubatletiek in die provinsie betrokke en het in die verlede onder meer as ondervoorsitter van die Johannesburg-Wesdistrik (D12) en op die Gauteng Skole-atletiekraad gedien.
Hy het in 2011 die Pierre Blignaut Gewigstoot en Diskus Akademie saam met sy mentor en vriend, Pierre Blignaut, wat as een van die beste worpe-afrigters in Suid-Afrika beskou word, gestig.
Die akademie het sedertdien 27 nasionale atlete en meer as 450 nasionale en internasionale medaljes opgelewer.
“Atletiek is vir my ’n groot passie en ek beskou dit as ’n groot voorreg om my passie by ’n atletiekskool soos Hoërskool Kempton Park te kan uitleef,” het hy bygevoeg.
