Kranige netbalspeler vat die kroon
Carla Loots (18) is nie net ’n mooi gesiggie nie. Sy gesels met Express oor haar netbal, drome en hoe sy dit als gedoen kry.
Wanneer Carla Loots (18) van Kempton Park by ’n plaaslike koffiewinkel instap is alle oë op haar gerig. Met haar lang gevlegde blonde hare en groen oë is sy pragtig, maar dit is die trots waarmee sy loop wat opvallend is.
Dié borrelende matriekleering is vroeër vanjaar as Mej Helpmekaar Kollege aangewys. Met ’n stylvolle swart oorpak en ’n mosterd-geel hemp, lyk sy beslis reg vir die loopplanke.
Aan haar linkerhand is ’n wit sporthorlosie. Carla is nie net ’n mooi gesiggie nie, maar ook ’n kranige netbalspeler.
“In graad ses het ek die eerste keer die Gauteng-span gehaal,” vertel sy, en bestel ’n glas water met ys en ’n suurlemoenskyfie. Sy kom nederig voor, wat sy miskien al kleintyd by haar voormalige marathon-atleet ma en rugbyspeler pa geleer het. “Ek het nie verstaan hoekom mense my gelukwens nie, want ek het nie toe al geweet wat dit beteken nie.”
Sedertdien het Carla al vier jaar vir haar provinsie opgedraf. In 2015 en 2017 het sy provinsiale kleure vir groen en goud verruil om Suid-Afrika te verteenwoordig.
As netbalsenter hou Carla van aksie. Ook maar goed, want sy moet die gom wees wat albei aspekte van die span, aanvallers en verdedigers, bymekaar hou. Die energie en talent vir dié werk borrel oor in haar vrolike persoonlikhied.
Die kelner bring haar water.

“Dankie,” sê sy met ’n glimlag, en neem die glas. Haar naels is versier met blinkers en sy dra ’n swart maan-ringetjie aan haar linkerhand.
Dit sit nie in enigeen se broek om op die netbalbaan te skitter nie. Óf in landloop en langafstande nie, Carla se twee ander passies.
Sy spandeer sowat twee ure elke dag op die netbalbaan, waarna sy die bus van Johannesburg huis toe neem. Aangesien daar nie tyd vir hardloop-oefening is nie, draf sy sommer van die busstop huiswaarts vir oefening.
“Om goed te lyk en goed te voel hou my gemotiveerd,” verduidelik sy. “As ek een dag nie oefen nie, voel ek ongesond.”
Miskien is dit dié toewyding en haar borrelende persoonlikheid wat haar klasmaats raakgesien het toe hulle haar vir die skool se skoonheidskompetisie, Beauty and The Beast, genomineer het.
Watookal dit was, die beoordelaars het haar ook raakgesien. Uit 10 ander deelnemers het sy die kroon opgeraap.
“Ek het nog gecheer vir die eerste prinses, toe kondig hulle my naam aan. Dit het gevoel soos ’n droom.”

Maar Carla se drome stop nie daar nie. Sy gaan volgende jaar BSc Verbruikerswetenskap aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer. Sy wil graag eendag haar liefde vir mode en koffie meng en haar eie besigheid oopmaak.
“Dan is my droom net om gelukkig te wees.”
Dit is ook ma Adele se droom vir haar talentvolle dogter.
“Sy moet gelukkig wees, dit is my gebedsaak. Ek sê soms vir haar, kyk net op my kind, smell the roses.”
