Local sportSport

KYK: Op die ringbalbaan is dié 10-jarige op sy stukke

Aanvanklik wou hy net verbeter in rugby. Dié sport is nou ’n bysaak.

“Ek hou van ringbal, want jy hardloop meer as wat jy stilstaan.”Só meen jong ringbaltalent Durandt Janse van Rensburg (10). Sy vinnige voetwerk en toewyding sorg dat hy sommer al vroeg-vroeg in die ringbalkringe raakgesien word.

Verlede maand het die Ekurhuleni-Noord-speler aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe vir ringbal deelgeneem. Hy het by Tshwane Korfbalpark opgedraf vir die o-13 seunspan; ’n uitstekende prestasie, aangesien dit drie jaar bo sy eintlike ouderdomsgroep is.

Die Graad Vier-leerder van Laerskool Impala se span het met die beker in hul ouderdomsgroep weggestap.

“Dit is ’n besonderse prestasie vir Durandt,” het Chanaix Schutte, departementshoof van sport by die skool, aan Express gesê. Durandt het in 2015 met ringbal begin, aanvanklik net om sy balhantering en beweging vir rugby te verbeter. Nóú is rugby net ’n bysaak. Hy spandeer soveel as ses ure per week by ringbaloefening, maar werk ook op sy eie aan sy fiksheid, balans en tydsberekening.

Miskien is dit juis hierdie toewyding wat hom so goed maak.

“Dit is moeilik aan die begin, want die spel is baie vinnig. Maar hou net aan,” is sy raad aan jongmense wat ook met die sport wil begin.

“Daag op vir al die oefeninge, speel saam met ouer spelers en leer by hulle,” voeg hy by.

Wanneer Durandt nie op die ringbalbaan doenig is nie, speel hy graag Minecraft, spring ‘pogo stick’, “en tart my suster.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button