EntertainmentLifestyle

Oud-Kemptonparker in nuwe Afrikaanse fliek te sien

Buiten haar werk as aktrise, is Lelia ook besig om opgang te maak in die bedryf vir haar vermoë om rolverdeling vir rolprente te behartig

‘n OUD-KEMPTONPARKER is tans te sien in ‘n splinternuwe Afrikaanse fliek, Ek Joke Net 2.

Lelia Etsebeth, wat nog dikwels by haar ouers hier in die stad kuier, speel die rol van die petsbakker in Ek Joke Net 2.

Sy her haar laerskooljare by Laerskole Mooifontein en Impala deurgebring en het aan Hoërskool Kemptonpark gematrikuleer.

Sy het die afgelope klompie jare in talle Suid-Afrikaanse rolprentgangers se harte gekruip vir haar rol as Liezl in die tienerkomedies, Bakgat! Bakgat! 2 en Bakgat! 3, asook vir haar rol as Maggie in die riller, Wolwedans in die Skemer.

Haar veelsydigheid as aktrise word in dié twee films uitgebeeld, maar sy het egter ook ‘n hele paar ander rolle vertolk. Dit sluit in Superhelde en Ek Joke Net!. Lelia het die hoofrol in ‘n Saak van Geloof vertolk wat ook in 2011 in rolprentteaters vertoon is.

Televisiekykers het Lelia leer ken as Lucy, ‘n dwelmverslaafde tiener, in die dramareeks Erfsondes. Kort daarna het sy ook haar verskyning gemaak in die gewilde reeks Getroud met Rugby en in die program The Last Say on Sunday.

Hoewel sy erg daaroor is om toneel te speel voor die kamera, het sy ook ‘n groot liefde vir teaterwerk. Sy het vir vier jaar deur Suid-Afrika getoer as deel van ‘n toneelgeselskap wat die bekroonde dramaturg Reza de Wet se drama, Mis, opgevoer het, waarin Lelia ‘n hoofrol vertolk het.

In 2012 het sy die verhoog gedeel met die Suid-Afrikaanse teaterlegendes Tobie Cronjé en Hannes Muller gedurende hulle landswye optredes van die klug My Vrou se Man se Vrou.

Radioluisteraars is bekend met Lelia se stemwerk in die rol van Riekie in die radiosepie Susters en Skandes vir RSG en as Maggie in die radioweergawe van Wolwedans in die Skemer. Sy was ook onlangs in die RSG-radiodrama, Die Huis van Bernarda Alba en vertolk die rol van Tombi in die eerste Afrikaanse animasie-rolprent, Khumba.

Buiten haar werk as aktrise, is Lelia ook besig om opgang te maak in die bedryf vir haar vermoë om rolverdeling vir rolprente te behartig. Sy het die rolverdeling gedoen vir onder meer die baie suksesvolle rolprente Hoofmeisie, Roepman, Verraaiers, Wolwedans in die Skemer, asook vir Pad na jou Hart en Agent 2000 wat eersdaags vrygestel word.

Lelia het laasjaar saam met haar mede-akteur, Jacques Bessenger, ‘n maatskappy gestig wat daarop fokus om beginner-akteurs touwys te maak oor toneelspel voor die kamera.

Izel Bezuidenhout (15) wat die vroulike hoofrol in die rolprent Agent 2000 vertolk, het vooraf by Lelia klasgeloop en die Acting On Screen tienerkursus voltooi.

Afgesien van haar werk op die verhoog, voor die kamera en agter die mikrofoon, studeer Lelia ook deeltyds. Sy het in 2012 haar Meestersgraad in Drama verwerf aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie en is tans besig met haar Doktorsgraad aan die Universiteit van Pretoria.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button