EntertainmentLifestyle

Tiener deel van Christelike pogroep

Sy grootste mentor is sy Hemelse Vader

‘n LEERLING van Hoërskool Jeugland, Dillon Botha (17), is deel van die Christelike popgroep, Victory5.

Victory5 bestaan uit vier tieners tussen die ouderdomme van 14 en 17 jaar en daar is niemand wat die hartklop van ‘n tiener beter verstaan as ‘n tiener self nie.

Victory5 se aanslag is jonk, energiek en vars. Hulle sing oor alledaagse kwessies wat tieners kwel en opgewonde maak. Deur hul musiek en optredes spreek hulle direk tot tieners regoor Suid-Afrika.

Hulle eerste enkelsnit, Dance, is vroeg in 2014 aan radiostasies landswyd uitgereik en is goed ontvang. Meer as 40 stasies speel die lied gereeld.

Die groep verskyn gereeld op Kruiskyk en sal op 18 Julie hul verskyning op ETV Sunrise maak. Daar word tans ‘n film vervaardig oor hul jong lewens, uitdagings en getuienisse.Dillon sing omdat hy dit geniet en was bevoorreg om al vanaf ‘n vroeë ouderdom aan kompetisies deel te neem. Sy doel en passie is om tieners van God te vertel en mense te help waar hy kan.

Hy geniet sy sport, veral trampolien, waarin hy in 2013 provinsiale kleure verwerf en ‘n tweede plek by die SA’s behaal het.

Sy grootste mentor is sy Hemelse Vader. Dan is sy ouers, familie en vriende, wat hom altyd bystaan in alles wat hy doen in die lewe, ook vir hom ‘n groot inspirasie.

Dillon se nefie het op ‘n jong ouderdom in hul swembad verdrink. Dit is waar hy tot die besef gekom het dat die Here Sy engele bymekaarmaak vir Sy koninkryk, maak nie saak hoe oud hulle is nie. Hy het as tiener ‘n kruispad in sy lewe bereik: hy moes óf vir die Here werk en Hom dien óf verder verlore raak in ‘n verlore wêreld.

“Ek was bevoorreg om in 2013 deel te word van Victory5, die eerste Afrikaanse Christelike tienerpopgroep. Dit het alles verander. Nou kan ek deur musiek en sang by die jeug en tieners uitkom wat tog die predikers en leiers van die toekoms is,” het hy gesê.

Voorgee is beslis nie iets wat jy by hierdie jong man sal bespeur nie. Hy raak vinnig omgekrap wanneer iemand glo dat roem en rykdom ‘n beter mens as ander van jou maak.

Hy wil na skool by die weermag se spesiale mag aansluit, omdat dit vir hom ‘n groot uitdaging sal wees. Hy glo dat hy daardeur ook die Woord van die Here sal kan uitdra.

Om ‘n suksesvolle kunstenaar te wees en daardeur ook sy Christenskap en die Woord te kan verkondig, is ook ‘n droom, maar hy plaas sy lewe totaal in die hande van God.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button