Con Amore ploeg terug met konsert
Die aanbieders is vol vertroue dat die gehoor dit sal geniet en ook gaan help om te ploeg en te saai

‘n Verskeidenheidskonsert word op 6 September deur Con Amore, ‘n skool vir gestremdes, in die saal van die NG Gemeente Kemptonpark (Monumentweg) aangebied.
Volgens die skoolhoof, Renier Petersen, ploeg hulle graag hulle dank terug vir wat die publiek vir hulle doen en beteken. Die skool wil graag die betekenis van die naam Con Amore (met liefde) gestand doen.
Tydens die konsert gaan Con Amore se koor en orkes verskeie items lewer. Die opbrengs word weer direk verdeel onder persone en instansies wat besig is met uitreikwerk. Dit is die doel van die konsert.
Daar gaan nog deelnemers wees uit verskeie kerke en verskillende ouderdomsgroepe, wat ook iets wil terugploeg. Wanneer laaste het jy die nostalgie beleef van ‘n outydse musiekie wat bespeel word?
Die program word verder afgewissel met ernstige en humoristiese items. Die aanbieders is vol vertroue dat die gehoor dit sal geniet en ook gaan help om te ploeg en te saai.
Die konsert is van 10vm tot 12nm en kaartjies kos R50 volwassenes en R20 kinders (6-12 jaar), wat verversings insluit.
Skakel Bettie Loock by 082-961-0307 of 011-396-1225 (werksure).
