Predikantseun maak naam in rolprentbedryf
Hy vertolk die afgelope jaar ook die rol van Emile in Binnelanders
‘n Predikantseun van Kemptonpark is besig om vir homself naam te maak in die Afrikaanse rolprentbedryf.
Deanre Reiners, tans ‘n matriekleerling aan Helpmekaar Kollege in Johannesburg, het vanjaar reeds twee films voltooi waarin hy die hoofrol speel. Hy vertolk die afgelope jaar ook die rol van Emile in Binnelanders.
Beide die rolprente wat hy pas klaargemaak het, is deur die Oscar-benoemde regisseur, Darrel Roodt, geregisseur.Tydens die pas afgelope Silwerskerm-filmfees in Kampsbaai het Seun gepremiere. Hierdie film is positief ontvang deur beide die publiek en kenners.
Deanre is genomineer as beste akteur en is aangewys as die wenner van die Silwerskerm-toekenning as beste akteur publiek se keuse.
Seun word vroeg in Desember in teaters vrygestel. Sy mede-akteurs in Seun is Chris de Clerq, Elzette Maarschalk, Chante Hinds (ook ‘n oud-Kemptonparker) en Candice Weber.
In Verskietende Ster, geskryf en vervaardig deur Stefan Enslin, vertolk Deanre die rol van ‘n begaafde jong pianis wat deur groot wroeging gaan na sy ma (Jana Strydom) se dood.
Hykie Berg vertolk die rol van sy pa. Ander akteurs in die film is Hannes Strydom, Gys de Villiers, Illze Oppelt, Johan Scholtz en Hanlie Rolfes. Verskietende Ster word in April 2015 in teaters vrygestel.
