EntertainmentLifestyle

Kempton se ‘Elton John’ tree in Benoni op

Rainer het ook 'n groot liefde vir laerskoolkore en doen gereeld verwerkings van ligte musiek vir Kruinsig

NIE net verjaar hy saam met die legendariese Elton John nie, maar hy sing en lyk ook baie soos die beroemde ster.

Dit is Rainer Jadischke, wat sy lewe lank in Kemptonpark gebly het, maar onlangs die Kaap sy nuwe tuiste gemaak het.

Hy kom egter later die maand weer hierheen om ‘n Elton John huldeblyk-konsert in Benoni te doen.

Jadischke is ‘n professionele sanger en musikant wat as sesjarige sy kleuterskool, Hompie ke Dompie, se slagorkes op die TV-program Wielie Walie begelei het.

Hy het tydens sy laerskoolloopbaan by Kruinsig verder in kultuur en op akademiese gebied uitgeblink en het by die jaarlikse kunswedstryde en klavierkompetisies talle bekers ingepalm.

Ten spyte van sy prestasies in klassieke musiek, het Rainer vroeg in sy hoërskoolloopbaan sy klassieke musiekbaadjie opgehang in ruil vir ligte musiek en het in 1993 lid geword van die suksesvolle Kempton Park Junior Boereorkes ondr leiding van Jasper van Rensburg (snr).

Na skool het hy vir bekendes soos Kurt Darren, Bok van Blerk, Dozi, Mel Botes,Theuns Jordaan, Anton Botha en Nicholas Louw op die verhoog en vir CD opnames gespeel.

Rainer het ook ‘n groot liefde vir laerskoolkore en doen gereeld verwerkings van ligte musiek vir Kruinsig se koor onder leiding van Antoinette Nightingale.

“Ek geniet dit baie om popliedjes aan te pas en te verwerk sodat kore dit kan sing. Die kinders geniet dit veral wanneer moderne instrumente gebruik word!”

Rainer het tot onlangs nog vir die Barnyard-teaters werk gedoen, waar hy sy niche ontdek het as een van die beste Elton John-vertolkers in Suid-Afrika.

“Ek is ‘n groot Elton-‘fan’. Sy styl van klavier speel het ‘n groot invloed op my eie spel en boonop sing en lyk ek ook bietjie na hom. O ja, en ek verjaar saam met hom op 25 Maart.”

“So dit maak net sin dat ek respek toon aan een van my grootste rolmodelle.”

Hoewel Rainer ‘n pienk bril, oorbel en deftige baadjies met sy vertonings dra, is die grootste klem duidelik op die musiek self. Hy het ‘n volledige orkes agter hom wat bestaan uit wêreldklas musici, wat koperblasers insluit.

Sy volgende vertoning is by die Endeo AGS-gemeente (h/v 2de Laan en 6de Straat, Northmead) op 31 Oktober om 7nm. Bring jou eie piekniekmandjie en geniet ‘n aand van wonderlike musiek.

‘n Gedeelte van die opbrengs is ten bate van liefdadigheid.

Bespreek jou tafel of kaartjies teen R120 ‘n persoon by Dalene de Waal by 011-425-3296.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button