Hollywood ontmoet Suid-Afrika op plaaslike bodem
Met haar besoek aan Suid-Afrika besef Katie gou dat die enigste ding beter as silwerdoekroem, die Vrystaatse boer, Kobus Willemse
OP die stel van die nuwe fliek, Leading Lady, was dit die eerste keer dat die veteraan-liefling van die Suid-Afrikaanse verhoog en silwerdoek, Brümilda van Rensburg, kon uitroep: “Goeie genade! Ek is deel van ‘n ware, sterbelaaide rolprent!”, en dan bloos sy in die teenwoordigheid van Gil Bellows.
In die nuwe fliek skuur plaaslike talent, Bok van Blerk en Brümilda van Rensburg, skouers met internasionale filmsterre.
Die bekende Ierse aktrise, Katie McGrath (Dracula, Merlin), vertolk die rol van Jodi Rutherford, wat roem probeer verwerf om in haar wêreldbekende kêrel se rolprent in Hollywood op te tree en Bellows (Ally McBeal, Shawshank Redemption) vertolk die rol van Jodi se kêrel, Daniel Taylor, in hierdie klassieke romantiese komedie.
Leading Lady vertel die verhaal van ‘n idealistiese Britse dramaskool-onderwyseres, Jodi Rutherford, wat die aanvanklik-stugge Suid-Afrikaanse boer, Kobus Willemse, oorreed om haar te help voorberei vir die rol van ‘n oorlogsheldin in ‘n belangrike rolprent. In ruil hiervoor onderneem Rutherford om die jaarlikse konsert op die Willemse se plaas te reël en die regie waar te neem.
Haar interaksie met die bekoorlike kleindorpse inwoners en die hardekwas Willemse, leer haar dat daar meer aan die lewe is as “ligte, kamera … aksie!” Of is daar?
Nadat McGrath die draaiboek van Leading Lady gelees het, het sy dadelik ingestem om teenoor Bok van Blerk in die rolprent te speel.
Wat dit nog meer opwindend maak, is dat hierdie talentvolle aktrise onlangs die silwerdoek met die Hollywoodse A-lys akteur, Jonathan Rhys Meyers in Dracula, gedeel het.
Henk Pretorius (Fanie Fourie’s Lobola) is die regisseur van Leading Lady en hy en Llewelynn Greeff is die vervaardigers.
Leading Lady sal op 28 November in ‘n rolprentteater naby jou begin draai.
