EntertainmentLifestyle

Nuwe dramareeks op KykNET vroeg in die nuwe jaar

Dis ‘n moderne, eg-Suid-Afrikaanse storie oor die wedersyds-afhanklike saamwoon van ‘n klein gemeenskappie bruin- en witmense

‘n Nuwe dramareeks uit die pen van die skrywer van bekende TV-reekse soos Arende, Konings, Torings, Onder Engele en Sterk Skemer, Paul C Venter, is vroeg in Januarie op die kassie.

Die reeks, Vlug na Egipte, is die eerste televisiereeks in byna ‘n dekade uit Venter se pen.

Die 13 uur-lange episodes word vanaf Dinsdag, 13 Januarie 2015 om 8.30nm op KykNET uitgesaai en ‘n verdere seisoen van 13 episodes sal direk daarop volg.

Venter se jongste storie speel af op ‘n tipiese Karoo-dorpie genaamd Breipaal – die oumense het glo toentertyd rieme daar gebrei deur hulle styf om ‘n paal te draai.

Dis ‘n moderne, eg-Suid-Afrikaanse storie oor die wedersyds-afhanklike saamwoon van ‘n klein gemeenskappie bruin- en witmense wie se lewens onlosmaakbaar vervleg is, en hoe nuwe intrekkers (die “Inkommers”) in so ‘n mate kom peuter met die bande wat die gemeenskap bind dat dit hulle aard en voortbestaan onherroeplik verander.

Die Haasbroek-gesin van Pretoria is sulke Inkommers. Hulle het aanvanklik net een doel voor oë: Om weg te kom uit Pretoria, weg van die nasleep van ‘n hewig-traumatiese ervaring.

Getrou aan die hedendaagse neiging glo hulle dis op die platteland waar hulle rus vir hulle siel sal kry. Hulle vlug uit die stad se geroesemoes byna soos Josef, Maria en die Kind van chaos af weggevlug het Egipte toe. Dit word as’t ware die Haasbroeke se Vlug na Egipte, ook na analogie van Rembrandt se gelyknamige skildery (wat ‘n eksentrieke inwoner met verf en kwas maar taamlik vrotterig probeer nadoen).

Die feit dat hulle gaan woon in die huis wat aan Meester behoort het – mag sy siel in vrede rus – jaag sekere inwoners van Breipaal die harnas in, maak ander bloot ongemaklik en dan is daar natuurlik diegene wat voorspel dat hier niks goeds van kan kom nie… veral nie na die moord op een van die inwoners nie.

Toe Meester boonop een nag onverklaarbaar aan die Haasbroek-dogter “verskyn”, begin dinge ‘n loop neem wat niemand kon voorsien nie.

Van die gesigte wat in die reeks te siene sal wees, sluit in Marcel Schoeman, Clara Joubert, Leandie du Randt, Louis van Niekerk, Marion Holm, Frank Opperman, Wilston Dunster en Richard van der Westhuizen.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button