Kerk hou basaar met sprokies as tema
Naas al die eetgoed is daar ook baie lekkers, speletjies en ‘n springkasteel om die kroos besig te hou

Die NG Gemeente Kemptonpark-Noord hou Saterdag sy jaarlikse basaar met die tema sprokies.
Tradisionele eetgoed en handewerk word aangebied.
Tuisgebak soos koeke, terte, pannekoek en al die braaiprodukte soos boereworsrolle, hamburgers, jaffels, kerrie-en-rys en die immergewilde basaarpoeding sal beskikbaar wees.
Kom geniet ook ‘n koppie boeretroos of tee saam met ‘n soet- of soutigheid in die teetuin, wat spesiaal deur Rooikappie geïnspireer is.
Jan en die Boontjierank sal sorg dat vars groente en ander tuisgemaakte produkte beskikbaar is. Jy staan ook ‘n kans om die trotse eienaar van ‘n skaap te wees vir slegs R30.
Kinders is ook baie welkom. Naas al die eetgoed is daar ook baie lekkers, speletjies en ‘n springkasteel om die kroos besig te hou.
Kom loer in by Highveldweg 99 vanaf 8.30vm en ontmoet dalk vir Rooikappie, Liewe Heksie of een van die ander gewilde sprokieskarakters.
Vir meer besonderhede, skakel Chris Swanepoel by 011-975-4064 of 083-268-7234.
