‘Ballade’ het ook ‘n plaaslike kinkel
Hierdie treffer-TV-reeks, wat in 1987 kykrekords gebreek het, se storie word nou weer vertel - dié keer op die grootskerm
DIE immergroen televisiereeks van die tagtigerjare, Ballade vir ‘n Enkeling, keer op 20 Maart terug – dié keer op die silwerdoek.
Nie net is ‘n oud-Kemptonparker, Jacques Bessenger, deel van die groep hoofakteurs nie, maar die regisseur, Quentin Krog, bly ook die afgelope tyd hier.
Hierdie treffer-TV-reeks, wat in 1987 kykrekords gebreek het, se storie word nou weer vertel – dié keer op die grootskerm met ’n nuwe en vars benadering tot die legendariese storie.
Die storie, geskryf deur Leon van Nierop, handel oor ’n joernalis (Donnalee Roberts) wat die waarheid agter die verdwyning van ’n gewilde skrywer (Armand Aucamp) onthul.
Lees ook: Krog, die man agter “Ballade vir ‘n Enkeling”
Die opdrag om ’n storie te skryf oor die verdwyning van hierdie skrywer het eers na ’n alledaagse, amper vervelige taak gelyk. Maar toe begin die soektog verskeie afdraaipaaie neem en die storie ontvou in een van die grootste van haar loopbaan.
Ballade vir ’n Enkeling is ’n romantiese speurverhaal. Hoekom verdwyn Jacques Rynhard, die land se gewildste skrywer, op die aand waarop die hoogste letterkundeprys aan hom oorhandig gaan word? Het daar te veel geraamtes uit sy kas getuimel en het sy verlede hom uiteindelik ingehaal? Maar die belangrikste: Is Jacques Rynhard werklik wie almal aangeneem het hy is?
Dit is die vrae waarmee ‘n joernalis by ‘n skindertydskrif, Carina Human, worstel. Aanvanklik is sy teësinnig om sy storie te skryf, maar vele leidrade dwing haar om dieper as die oppervlakte te krap.
Gedurende haar ondersoek krap Carina Human ‘n perdebynes van korrupsie, verraad, donker geheime en selfs moord oop. Sy kom ook onder die indruk van haar eie onvervuldheid.
Luister na Joshua na die Reën se vertolking van Voshaarnooi
Bessenger, wat die rol van Jan-Paul Otto Snr vertolk, is in KwaZulu-Natal gebore, maar het in Kemptonpark grootgeword.
Hy was ‘n leerling van Laerskool Mooifontein en Hoërskool Jeugland en woon tans in Blairgowrie.
Hy het sy Nasionale Diploma in Drama aan TUT verkry en daarna sy beroep begin met ’n titelrol in die verhoogproduksie, The Picture of Dorian Gray. Hierna het sy rol as Mossie in die gewilde kykNET-reeks, Song vir Katryn, sy loopbaan as professionele akteur gevestig.
Hy het die rol van Renier in die SABC-reeks Erfsondes vertolk waarvoor hy in 2013 genomineer is vir ’n SAFTA- en ATKV-media-toekenning vir beste akteur in ’n dramareeks.
Die Silwerskermfees 2013 het Jacques bekroon as die Beste Manlike Byspeler vir sy rol in die film Verraaiers.
Hy was ook te sien in Donkerland, Binnelanders, Isidingo, Villa Rosa en Wolwedans in die Skemer.
Krog is ‘n man met vele talente. Vanaf 2004 was hy betrokke by van Suid-Afrika se beste film-, televisie- en teater-projekte. Sy onlangse optredes kan gesien word in die komediese aksie-film, Blitzpatrollie, en kykNET se dramareekse Donkerland, Vloeksteen, Boland Moorde, Swartwater (SABC) en die kykNET kortfilm, Die Buurtwag.
Voordat Quentin begin regie doen het, het hy as assistent-regisseur van Donkerland, Getroud met Rugby 4, Drukkersbloed, Thomas@, Hartland, Blitzpatrollie en Wolwedans in die Skemer gewerk.
Hy was ook voorheen die eienaar en vervaardiger van Firestorm Production, ’n digitale bemarking- en produksiemaatskappy in Kaapstad. Wanneer Quentin nie as regisseur of akteur besig is nie, tree hy graag as fotograaf op.
Luister na die temalied uit die fliek, Voshaarnooi, gesing deur Joshua na die Reën, op www.kemptonexpress.co.za
Ballade vir ‘n Enkeling wys ook vanaf 20 Maart by Ster Kinekor in Festival Mall
