Nuwe Afrikaanse komedie begin in Junie draai
Die fliek spog met drie kykNET Silwerskermfees toekennings

‘n Nuwe Afrikaanse romantiese komedie, Hollywood is my Huis, word op 26 Junie landswyd in teaters bekendgestel.
Die fliek spog met drie kykNET Silwerskermfees toekennings vir kenners-keuse, gehoor-gunsteling en gehoor-gunsteling aktrise, Christia Visser.
Die temalied, Alles gee, geskryf en opgeneem deur Joshua na die Reën, kan reeds op radiostasies gehoor word.
Hollywood in my Huis gaan oor volwassewording en speel af teen die agtergrond van ’n matriekafskeid in 2004.
Die storie fokus op ’n gewone tienermeisie , Jana van Tonder (Christia Visser), wat in ’n arm spoorwegbuurt saam met haar disfunksionele ouers woon. Toe sy egter op televisie sien hoe Charlize Theron haar ikoniese Oscar-beeldjie wen, inspireer dit Jana om haar matrieksafskeid in haar eie Hollywood-rooitapytoomblik te omskep.
Die matriekafskeid vind oor net meer as ’n maand plaas en met die leiding van haar ouers en Suzy (Elana Afrika-Bredenkamp), haar towertante, kom Jana voor die moeilike keuse te staan om tussen haar beste vriend en haar droomou te moet kies.
Hollywood in my Huis gaan oor twee wêrelde, die mense aan die verkeerde kant van die spoorlyn en hul ryk teenpole, maar dit gaan ook oor die fantasiewêreld waarin Jana leef.
Die rolprent is hoofsaaklik in Vasco en by Hoërskool Brackenfell geskiet. Sekere tonele is egter by Fisantekraal, Observatory en in die Kaapstad-omgewing verfilm.
