Esperança se “40 items within 40 days”-projek skop af op 1 Februarie
Vir baie jare het die Espreança Foundation 'n 40 items within 40 days-projek om behoeftiges in die gemeenskap te kan help. Hulle vra weereens die gemeenskap se hulp om die projek te laat slaag.
Dit is weer tyd vir die Esperança Foundation se 40 items within 40 days-projek en hulle vra die gemeenskap om hul harte oop te maak en die projek te ondersteun.
Die organisasie vra elke jaar vir die gemeenskap om vir 40 dae lank elke dag een item aan hulle te skenk. Die idee is dat jy elke dag een item in ‘n sak plaas en die sak met die items aan die einde van die 40 dae vir hulle gee.
Hierdie skenkings word dan gebruik om behoeftige families in die gemeenskap te help, en die items wat hulle nie kan uitdeel nie ruil of verkoop hulle dan op hul Facebook-blad om fondse in te samel waarmee hulle kos en ander noodsaaklike items vir die families kan koop.
In Desember het hulle geskenke en kos aan baie van die gesinne wat hulle help uitgedeel maar Yolande Pestana, een van die stigters van die organisasie het gesê dat hulle op die oomblik min skenkings ontvang.
“Ons doen van tyd tot tyd huisbesoek by die families wat ons help en bly in kontak met hulle om te sien waar ons kan help.”
Yolande het die News vertel dat hulle dié jaar meer daarop wil fokus om mense met gestremdhede te help.
“Dit maak nie saak watter gestremdheid die mense het nie, ons wil kyk of ons hulle kan help,” het sy vertel.
Hulle is spesifiek op soek na mediese toerusting en hulpmiddels soos rolstoele, krukke, looprame, ringkussings ens.
Sy het vertel dat staatshospitale nie noodwendig hierdie tipe mediese toerusting verskaf nie en dat baie mense ook nie die geld het om dit self aan te koop nie.
Hulle het reeds op 29 Januarie hul eerste hul sypaadjieverkoping vir liefdadigheid by hul nuwe perseel gehou.
Die volgende uitverkoping is op Sondag, 6 Februarie by Fisherstraat 44 en hulle sal ook Valentynsgeskenke verkoop vir dié wat sommer vroeg al iets wil kry. Die verkoping sal tussen 10:00 en 15:00 plaasvind.
Die 40 items within 40 days-projek sal op 1 Februarie afskop en tot en met 12 Maart duur. Indien jy hulle graag wil ondersteun, kontak gerus vir Yolande by 062 748 4657 of Sara van Rensburg by 073 214 5181.
