Laerskool Muldersdrif moes onlangs vir Trudie Kriek totsiens sê toe sy na jare by die skool afgetree het. Sy tree dalk af, maar sy tree beslis nie uit nie.
Trudie het in 1981 begin skoolhou en behalwe vir die tien jaar waarin sy tuis was met haar eie kinders het sy haar werkslewe aan die kinders in haar klas gewy. Sy het van kleintyd af geweet dat sy met kinders wou werk en ‘n verskil maak.
Sy het al by verskeie skole klasgegee, en was die afgelope 16 jaar die departementshoof vir die grondslagfase by Laerskool Muldersdrif. Sy het vir die Graad 2’s skoolgehou en het die afgelope ses jaar by die skool se leessentrum gewerk. Die leessentrum was een van haar drome en sy het vertel dat met skoolhoof Herman Byleveld se ondersteuning kon sy hierdie droom bewaarheid.
Dié 64-jarige het tot op 56 by die skool netbal afgerig en bied steeds smiddae ekstra klasse aan.
In ‘n stadium het sy ook in die Kaap by ‘n skoolkliniek gewerk wat na skole toe gegaan het om kinders met leerprobleme te help. Sy het vertel dat sy dit vreeslik geniet het omdat haar hart by kinders lê wat die een of ander uitdaging beleef.
Die lekkerste aspek van haar onderwysloopbaan was wanneer sy met ‘n kind kon werk wat uitdagings het en dan met die regte aandag kon sien hoe die kind soos ‘n blom oopmaak.
Haar planne vir haar aftrede is om nie stil te sit en oud te word nie, daarom gaan sy steeds met die ekstra klasse by die skool betrokke wees.

Sy het reeds ‘n paar opkappingsprojekte wat sy by die huis wil aanpak. “Ek het agtergekom dat jy alles wat stilstaan met chalk paint kan verf,” het sy laggend vertel.
Ek het letterlik en figuurlik saam met die skool gegroei. Ek glo jy moet blom waar jy geplant is, en ek is so dankbaar vir die geleenthede wat vir my gegee is. Ek gaan met heimwee weg.”
Sy is ook baie trots daarop dat twee van die studente vir wie sy tevore skoolgehou het self nou onderwysers by Laerskool Muldersdrif is, en Trudie het vertel dat dit lekker is om te dink dat sy hulle geïnspireer het.
Die graadsewes het onlangs ‘n klok aan die skool geskenk en elke onderwyser wat die skool verlaat moet die klok lui. Trudie is dus die eerste personeellid wat gaan ‘uitklok’.
Sy het vier kinders en sewe kleinkinders wat haar baie besig hou, maar Trudie sê met trots dat sy wel aftree maar nie gaan uittree nie.
Die News wens vir Trudie baie sterkte toe met die nuwe hoofstuk in haar lewe.
