Local news

N'zuri-span mik weer vir wêreldglorie

Benewens hul daaglikse werk as brandbestryders, toets hulle hul uithouvermoë op nasionale en internasionale vlak.

Van Krugersdorp se dapperste brandweermanne en -vroue berei hulle tans voor vir nóg ‘n reeks uitdagende kompetisies waarin die reddingsdiens se N’zuri-span hul fisieke en geestelike uithouvermoë gaan toets.

Die N’zuri-span neem gereeld aan uitdagende kompetisies deel om hul deursettingsvermoë en fiksheid te meet. Die span het reeds internasionaal aan die World Fire Fighting Games en die Toughest Firefighter Alive-kompetisie deelgeneem. Hulle het ook al die trappe van die Leonardo-gebou in Sandton in volle brandweeruitrusting aangedurf.

Volgens die span se afrigter, Manie Gouws, het hy en Vincent Naudé onlangs saam met twee spanmaats aan ‘n Hyrox-afloskompetisie deelgeneem.

Manie Gouws in aksie tydens oefening. Argieffoto

Elke deelnemer moes 2km hardloop en twee oefenstasies tussen elke kilometer voltooi. Die uitdagings het onder meer 1km roei, 100m lunges met 20kg gewigte, 80 burpees en verskeie ander oefeninge ingesluit. In totaal moes die span 8km hardloop en agt oefenstasies voltooi.

“Ons span het dit alles in volle brandweeruitrusting gedoen, terwyl die ander duisende atlete in oefenklere deelgeneem het. Ons het baie warm gekry en baie gesweet, maar ons het dit in een uur en 34 minute voltooi en algeheel 36ste geëindig. Dit was ons eerste keer dat ons aan dié soort kompetisie deelgeneem het, maar ons het dit baie geniet en is trots dat ons dit kon voltooi,” sê Manie.

Die span se kalender bly vol. Hulle neem in Julie aan die Dräger Fire Rescue Challenge deel, gevolg deur die National Toughest Firefighter Alive in Oktober en die World Fire Fighting Games in November, wat vanjaar in Saoedi-Arabië aangebied word. Vier spanlede sal Suid-Afrika by die wêreldbyeenkoms verteenwoordig.

Vincent Naudé, Thato Molefe en Manie is ook deel van ‘n groep van 14 Suid-Afrikaanse brandbestryders wat die sogenaamde Johannesburg Trifecta voltooi het.

Vincent Naudé oefen met 'n brandslang. Argieffoto

Die uitdaging behels dat deelnemers die trappe van drie van Johannesburg se hoogste geboue in volle brandweeruitrusting moet uitklim, met ‘n asemhalingsilinder op die rug wat hul toerusting met tussen 15 kg en 20 kg swaarder maak.

“Ons het met die Leonardo begin, wat 57 vloere het, daarna Ponte-toring met 54 vloere en laastens die Carlton Centre met 50 vloere. Elke gebou het sy eie unieke uitdagings gehad en die lede moes hard werk en aanhou om bo uit te kom,” vertel Manie.

Volgens hom dien al hierdie uitdagings as voorbereiding vir die span se grootste kompetisie van die jaar, die Toughest Firefighter Alive, wat in Oktober in George aangebied word.

“N’zuri is tans die afloskampioene van dié kompetisie en ons hoop om die titel vanjaar suksesvol te verdedig,” sê hy.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Heinrich Greyling

Heinrich Greyling is a LLB student, which gives him an eye in fairness towards everything he writes about, with a passion of uncovering the truth. If the relevant information is available, he is willing to help anybody, with a keen interest in hard, crime, entertainment, municipal, human interest and automotive journalism. He is a journalist who is willing to write about anything, no matter the controversy or risks involved.
Back to top button