
Hoërskool Noordheuwel het rede om trots te wees nadat die tydskrif, FAIRLADY in hul Junie 2013 uitgawe Nories onder die top 25 staatskole in die land gelys het.
Om as een van die topskole in die land aangewys te word moes Hoërskool Noordheuwel voldoen aan verskeie kriteria soos goeie matriekuitslae, uitstekende prestasies en bekostigbare skoolfonds.
Die tydskrif het aan 60 skole landwyd, wat aan die eerste kriteria van 100 persent slaagsyfer oor die afgelope vyf jaar voldoen het, ‘n vraelys gestuur.
Die afdelings het akademiese prestasies, fasiliteite, skoolfondse en onderwyser-leerling ratio ingesluit.
Vanselfsprekend het Nories die toets met vlieënde vaandels geslaag. Van al die deelnemende skole spog Noordheuwel met die meeste leerlinge in die skool.
Uit die top 25 skole is Nories een van sewe seuns en dogters skole aangewys tussen die 15 meisieskole en twee seunskole.
Vyftien van die skole is ook koshuise.
“Noordheuwel onderskryf individuele integriteit, deurlopende deelname aan aktiwiteite en dissipline. Die skool reik uit na die gemeenskap en ondersteun ‘n wye veld van liefdadigheid,” sê Yvette Moolman, bemarker en skakel vir Hoërskool Noordheuwel.
Die skool is vanjaar 32 jaar oud en bied uitstekende onderrig, ‘n wye spektrum van kultuuraktiwiteite en rig ‘n verskeidenheid sportsoorte op puik fasiliteite af.
“Dit is dus met trots en nie sonder goeie rede dat die skool onder die top 25 skole in die land sorteer nie.”