Sestienjarige weer tuis
Die familie van die 16-jarige meisie wat vir twee dae vermis was, was erg bekommerd oor haar, maar sy is gelukkig gevind in 'n veilige toestand.

Marlene van Tonder se familie was verskriklik bekommerd oor haar nadat sy op 18 Junie by haar bure gaan kuier het en nooit weer huis toe gekom het nie.
Die 16-jarige woon by haar oupa en ma in Malettstraat, Mindalore en het glo by haar buurvrou gaan kuier om haar grimeringsakkie te gaan haal.
Haar oupa het tot 7nm gewag dat sy moes huis toe kom en het toe in sy motor geklim en na haar gaan soek.
“Ek was by almal met wie sy bevriend is, en niemand weet waar sy is nie,” sê Thomas van Tonder, Marlene se oupa.
Hy het tot 11nm op en af gery op soek na Marlene.
Haar oupa het ook by die Krugersdorp SAPD ‘n saak van ‘n vermiste persoon gaan probeer open, waar hy eenvoudig weggewys is omdat die 16-jarige nog nie 24 uur vermis was nie.
Hy is wel op 19 Junie by die Roodepoort SAPD gehelp waar een van die bevelvoerders ‘n saak geopen het.
Marlene se ma en oupa het vanoggend (21 Junie) die NUUS ingelig dat sy veilig gevind is en wil graag die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning en bystand wat gehelp het om Marlene op te spoor.
“Ek kon nie slaap nie want ek was dood bekommerd oor haar. Ek het heeltyd wonder of sy veilig is, ten minste ‘n dak oor haar kop het en iets het om te eet.
“Baie dankie vir die bystand van ons gemeenskap, sy is weer veilig tuis. Ons is baie lief vir haar.”