Proties se musiekfees lok duisende
Laerskool Protearif se tweede Protea Musiekfees het groot skares, kindervermaak en sterk gemeenskapsondersteuning gelok, met planne om die geleentheid volgende jaar nóg groter aan te bied.
Duisende besoekers het die afgelope naweek Laerskool Protearif se terrein ingevaar vir die skool se jaarlikse Protea Musiekfees.
Die fees het op 23 Mei plaasgevind en verskeie bekende Afrikaanse kunstenaars het opgetree, waaronder Nicholis Louw, Bernice West, Irene-Louise van Wyk, Barto, Die Piesangskille en Riaan Benade.
• LEES OOK: Eerste Proteafees laat die publiek sing en spring
Volgens die skoolhoof, Donna Lourens, was dit die tweede keer dat die skool die musiekfees aanbied.
Die geleentheid het verskeie vorme van vermaak gebied, insluitend musiekoptredes, meer as 80 stalletjies en talle aktiwiteite vir kinders.





Donna het vertel dat daar teen 13:00 reeds tussen 2 000 en 3 000 mense opgedaag het, met nog besoekers wat later die middag aangekom het toe die groter kunstenaars begin optree het.
Dit was ’n uitstekende geleentheid vir die gemeenskap en kinders om saam te kuier en die dag te geniet,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat die skool vanjaar spesiale aandag aan kindervermaak gegee het, met kreatiewe aktiwiteite, gesigverf, trapfietse en koekieversiering as deel van die program.





“Ons beplan beslis om die fees volgende jaar weer aan te bied en om dit elke jaar nóg groter te maak en meer mense te betrek,” het hy gesê.
“Die dag was bedoel vir ontspanning in ’n landelike omgewing, en baie mense het teruggekeer. Ons beskou dit reeds as ’n instelling.
Ons is baie dankbaar teenoor almal wat die dag ondersteun het en gehelp het om die gemeenskap ’n hupstoot te gee,” het hy afgesluit.




