Local newsNews

Wees bedag op hierdie uitvisslenters

Eposboodskappe wat sê mense ontvang geld is vals en bedrieglik.

‘n Inwoner van Krugersdorp wil mense waarsku oor ‘n eposslenter wat tans in die kuberruim sirkuleer.
Jomar Steenkamp het ‘n epos ontvang wat lyk of dit van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) af kom en wat hom inlig dat ‘n bedrag van R5 269,20 in sy rekening inbetaal is.

“My vrou het die epos oopgemaak en my gevra of ek enige geld in my bankrekening gekry het omdat ‘n epos sê dat die SAID geld inbetaal het.

“Ek het vir haar gesê sy moet niks verder oor die epos doen nie en dat ek eers by hulle sal uitvind of dit so is, want vir my het dit vreemd geklink omrede ek het nog nie my belastingopgawe ingedien het nie.”

Hy het uitgevind dat dit wel ‘n eposslenter is wat niksvermoedende mense probeer vang om inligting aan kubermisdadigers te oorhandig. Dit word ‘n uitvisslenter (ook phising) genoem.

Steenkamp het eposboodskappe uitgedruk en as bewys na die NUUS se kantoor gebring dat dit op ‘n haar soos die ware Jakob lyk.

Die NUUS se verslaggewer het self al van hierdie eposse in sy eposposbus ontvang waar hy glo ‘n betaling van R4 350,20 ontvang het, alhoewel hy self nog nie sy belastingopgawe op die webblad of by die SAID se kantore ingedien het nie

In ‘n onlangse epos is die volgende eposboodskap ontvang: “‘n Betaling vanaf die SAID se eFiling is in jou bankrekening gemaak en dit sal vyf werksdae neem voordat die geld in jou bankrekening sal wys. Om die proses te kan begin en die betaling te bevestig kliek op die skakel om aan te meld. Gedurende hierdie proses, sal jou rekening nagegaan en geverifieer word.”

Daar is vasgestel dat die skakel jou na al die banke wat in die land beskikbaar is neem, waarna ‘n mens op die bank waar jy sake doen kan kliek.

Dit is hier waar ‘n mens se inligting verkry word, want die bladsy wat dan oopgemaak word lyk presies soos die bladsy van jou bank. Die enigste verskil is dat sodra die persoon sy of haar persoonlike inligting ingesleutel het sal die bladsy nie ‘n volgende een oopmaak nie.

Teen die tyd dat ‘n mens agterkom dat dit moontlik ‘n slenter is, het die kubermisdadiger reeds toegang tot ‘n mens se bankrekening verkry en die geld wat daarin is gesteel.

Al die skakels op dié nagebootste webtuiste werk nie, wat reeds ‘n aanduiding is dat dit ‘n slenter is.

Die SAID sê op hulle webtuiste dat hulle ‘n afdeling op hulle webtuiste gaan hê waar hulle gereeld kennisgewings van enige nuwe slenters sal oplaai.

“Daar word willekeurig aan lede van die publiek vals en bedrieglike eposboodskappe gestuur om te lyk of dit van die SAID af gestuur word, maar is in werklikheid eposse wat daarop gemik is om niksvermoedende belastingbetalers te kry om hulle persoonlike inligting soos bankrekeningbesonderhede te deel.”

Voorbeelde hiervan sluit in eposboodskappe met die volgende adresse: returns@sars.co.za, refunds@sars.co.za, message@e.sars.org.za, transactions@e.sars.org.za of notice.pmt@e-sers.za wat aandui dat belastingbetalers in aanmerking kom om terugbetalings van SAID te ontvang.

“Hierdie e-pos bevat skakels na valse vorms en valse webtuistes wat gemaak is om na die regte webtuistes te lyk, maar met die doel om mense om die bos te lei sodat kubermisdadigers die persoonlike inligting kan gebruik om die geld te onttrek.”

Die NUUS se lesers moet weet dat dit bedrog is en SAID-belastingbetalers moet kennis neem van die volgende:

• Moenie eposboodskappe oopmaak of daarop reageer as dit van onbekende bronne af kom nie.

• Pasop vir eposboodskappe wat mense se persoonlike, belasting-, bank- of eFiling-besonderhede aanvra (aanmelddata, wagwoorde, pinnommers, krediet-/ debietkaartinligting, en dies meer) aangesien die SAID nooit sy belastingbetalers vir sulke inligting in ‘n eposboodskap sal vra nie.

• Die SAID sal nie bankbesonderhede per telefoon, epos of op ‘n webblad aanvra nie.

• Wees op die uitkyk vir enige sms-boodskappe wat inligting aanvra.
Rapporteer enige inligting oor ‘n uitvisslenter by phising@sars.gov.za of bel die teenkorrupsie hulplyn by 0800 002870. Diegene wat so ‘n epos kry, kan dit ook aanstuur na phising@sars.gov.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button