Kuns is polisieman se groot liefde
Vir hom is elke kunswerk soos 'n liedjie se note wat jy moet verstaan.
Wanneer kaptein Moray Slabbert (43) van die Krugersdorp Polisie nie besig is om kriminele vas te trek nie, spandeer hy sy tyd as kunstenaar agter die esel waar hy sy passie vir kuns uitleef, want elke kunswerk “is soos ‘n liedjie se note wat jy moet verstaan”.
In sy werkskamer, wat voorheen sy motorhuis was, sit hy sommer op ‘n kussing op die vloer waar hy die verfkwaste lei om ‘n kleurvolle skildery te skep. Verskeie van sy werke pryk teen die mure.
Dit is hier waar hy sy liefde vir kuns, wat hy sowat 13 jaar gelede begin ontwikkel het, uitleef om na werksure van die daaglikse lewe te ontsnap.
“Ek sit stoksielalleen in my werkskamer met die mooi klanke van klassieke musiek met woorde wat ‘n boodskap oordra. Dit help my om rustig te word sodat ek dan net op my kuns kan fokus.”
Wanneer ‘n mens by Morray se meenthuis instap is dit duidelik dat kuns ‘n baie belangrike rol in sy lewe speel aangesien kunswerke jou vriendelik begroet.
“Ek het ‘n eindelose passie vir skilder. Ek glo dat dit die een kunsmedium is wat ‘n mens as volmaakte kuns kan beskryf.”
Moray se droom is om ‘n surrealistiese kunstenaar te wees wat realiteit met fantasie meng.
“Op die oomblik probeer ek myself op verskeie maniere uitdruk en gebruik verskillende tipes kunsvorme totdat ek myself gevind het.”
Moray het tot dusver meer as 3 000 skilderye geverf en hy vertel dat sy werk al in die Krugersdorp Museum uitgestal is. ‘n Nuwe kunsvorm wat hy gebruik, is te sien in die lente-uitgawe van die Amerikaanse kunstydskrif FYGRC Creator’s Magazine.
Vra ‘n mens hom waar hy sy inspirasie vandaan kry, antwoord hy dat hy baie tyd bestee om ander kunstenaars se werke te bestudeer.
“Ek kyk ook na foto’s en gebeure in die werklike lewe en gebruik daardie observasies dan in my kunswerke.”
Moray wat in 1988 by die polisie aangesluit het, sĂȘ as hy vooraf geweet het dat hy eintlik ‘n kunstenaar van formaat is, sou hy eerder ‘n lewe as kunstenaar wou lei.
“Om in die polisie te werk is lekker, want ek voel ek gee my deel terug deur misdaad te bekamp, maar wanneer ek voor die esel sit dan raak dit ‘n sentimentele oomblik waar dit my vriend word.”
Moray raai mense aan wat soos hy aan stres begin ly het om iets anders te doen wat hulle gedagtes kan aflei.
“Ek het in 1997 aan posttraumatiese stressindroom begin ly. Ek het die stryd daarteen gewen toe ek kunsklasse begin neem het.”
Vir meer inligting oor sy kunswerke kan Moray by 071 515 1722 gekontak word.
