Heerlike staproetes in winter
Twee verfrissende roetes is beplan vir Julie.
Die Krugersdorpse Stapklub bied twee heerlike staproetes vir hierdie maand aan.
Die eerste roete, Peledingwe is vir 13 Julie beplan.
Hierdie roete is aan die Krokodilrivier in die Broederstroom-omgewing. Dit is ‘n boomryke roete, met slegs oop kolle op die hoë koppies en die draai van die rivier vêr onder die koppe. Die staproete bo-op die koppe loop saam met die rivier se kronkels.
Dit is ‘n baie lekker roete, ongeveer 10km lank maar kan plek-plek baie ruig wees, veral na die reëns.
Die roete begin en eindig op die geskiedkundige Preller-plaas en die ou familiebegraafplaas is een van die besienswaardighede op die terugtog.
Die opstal is ‘n nasionale monument waar die bekende Eugene Marais ook sy laaste jare deurgebring het. Dit is ook deur die voormalige Atoomenergiekorporasie in die 1980’s en 1990’s gebruik as restaurant waar hoogeplaaste besoekers dikwels onthaal is. Die huis staan tans leeg, maar daar word gewoonlik ‘n bring-en-braai na afloop van die stap gehou.
Vir 20 Julie word die roete Rustig beplan.
Rustig is op privaat grond geleë, omtrent 55km van hier reg teen die Magaliesberg in die Skeerpoort-omgewing, net verby Hekpoort.
Dit is werklik ‘n pragtige roete. Die roete is teen die berg uit, tot op die kruin vanwaar selfs die Krugersdorp-myhope (dié wat nog bestaan) op ‘n mooi skoon oggend gesien kan word. Die uitsig hier van die kruin af is asemrowend; selfs ‘n gedeelte van die Hartebeespoortdam is sigbaar. Die roete is baie gemaklik op die kruin en met die afstap kan stappers rus onder ‘n oorhangende rots, wat die grot genoem word. Die afstap is plek-plek effens steil, maar nêrens is dit gevaarlik nie. Daar word gewoonlik op die die roete gebraai. Voorafbesprekings is noodsaaklik, dus moet stappers asseblief laat weet of hulle die stap gaan meemaak.
Vir meer besonderhede, skakel gerus vir Babsie of Phillip by 083 788 4555 of 083 544 1102.
