NewsSchools

Noordheuwel-kleuters bederf hul ouers

Die kleuters het daarna gedink hulle moet sommer elke dag teepartytjie hou.

Kiddies Lodge het behoorlik die mammas en pappas gedurende Mei en Junie bederf.

Vrydag 10 Mei het al die mammas teepartytjie saam met hul kleingoed gehou.

Hulle het ‘n paar danspassies uitgeoefen met die Hokey Pokey, en het ‘n poppekas geniet wat spesiaal oor mamma’s gegaan het.

Die groot opgewondenheid was natuurlik die kleutertafels wat gedek was vir die teepartytjie saam met die mammas.

Die kleuters het dit vreeslik geniet aangesien die juffrouens die kelners was.

Die mammas was behoorlik bederf na hulle lekker kolwyntjies versier het en tee gedrink het. Een van die dogtertjies het die tee baie ernstig opgeneem en was baie ontsteld toe haar ma met van die ander mammas praat, want haar ma mag net saam met haar kuier.

Benita Venables saam met haar ouma Stera Minnie.
Benita Venables saam met haar ouma Stera Minnie.

Die kleuters het daarna gedink hulle moet sommer elke dag teepartytjie hou.

Op Vrydag 14 Junie was dit natuurlik die pa’s se beurt. Hulle was deur die kleingoed ingewag met ‘n spesiale geskenkie en handgemaakte kaartjie.

Die pa’s kon hul grootmeneer-skoene uitskop en net lekker saam met hul kinders speel.

Kiddies Lodge het seker gemaak dat daar iets van als vir die pa’s en kinders is om te doen.

Sommige van die pa’s het sommer plat in die sand gesit en te heerlik sandkastele gebou. Die pa’s en kinders kon ook hul meesterstukhoue uithaal op Kiddies Lodge se eie putt-putt-baan.

Die pa’s wat groenvingers het kon ook hul tuinvernuf beoefen deur ‘n plantjie saam met hul kleuter te plant.

Laastens het hulle die dag afgesluit deur ‘n worsie heerlik op die kole saam met hul kinders te braai.

Dit was natuurlik vir die kleuters die hoogtepunt, aangesien hul die pa’s kon wys waar Dawid die wortels gegrawe het met hul braaivernuf.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button