Local newsNews

Seun (6) se droom bewaarheid

'n Seun (6) met 'n aangebore toestand wat sy ledemate abnormaal laat ontwikkel het, sal nou kan fietsry, 'n bal skop en hardloop.

Die breë glimlag van Kananelo Mokhoke (6) het ‘n sakeman se hart so aangeraak dat hy besluit het om R20 000 by te dra wat hom sal help om ‘n kunsbeen te kry sodat hy kan leer loop.

Dié sakeman, Albert van de Wetering, eienaar van Afrit-sleepwaens het in Mei ‘n rugbybal met die handtekeninge van al die 2007 Rugby Wêreldbekerkampioene, die Springbokke daarop, op ‘n veiling tydens ‘n gholfdag gekoop.

Die geld is ingesamel om Kananelo, ‘n Graad R-leerling aan die Wes-Rand Skool te help wat met Roberts Phocomelia-sindroom gebore is.

Die siekte tas die ledemate soos die bene en arms van kinders in hulle ontwikkelingstadium aan en veroorsaak abnormale ontwikkeling.

Albert sê toe Kananelo se foto die aand tydens die gholfdaggeselligheid op die muur verskyn, het hy gevoel dat hy kan help.

“Toe ek die foto sien, het sy glimlag in my hart gekruip – ten spyte van sy omstandighede glimlag hy steeds, en dit het my opgeval.”

Hy sê hy het die rugbybal wat hy gekoop het, aan Kananelo geskenk sodat dit later weer opgeveil kan word om ander mediese koste te dek.

“Ek het ook genoem dat ek gekontak moet word wanneer hy ‘n ander been moet kry, want soos hy groei sal die huidige been hom nie meer pas nie.”

Mariaan le Roux van GrainCare, ‘n niewinsgewende organisasie wat uit die drie maatskappye Unigrain, Grain Carriers en Grain Logistics ontstaan het en onder andere mense met gestremdhede help, sê dit is vir hulle ‘n ongelooflike oomblik om te sien dat daar ‘n verskil in iemand se lewe gemaak kan word.

“Dit is lekker om te sien dat al die harde werk om vir hom ‘n beter lewe te kan gee vrugte afgewerp het.”

Kananelo se droom om te kan hardloop, fiets te ry en om net ‘n kind te wees is bewaarheid.

Hy het sy nuwe been op 16 Julie ontvang.

Graincare bedank vir Afrit en Roelof Heyneke wat dit moontlik gemaak het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button