Anri Nell, Rene Stydom, Natasha Stack, Monique Roberts (kaptein), Mariska van Wyk, Karla Janse van Rensburg, Gertrude Monare (Suid-Afrikaanse onder 17-speler), Chantal Oberholzer en Marcelle Posthumus.
Die netbalspanne van Hoërskool Noordheuwel kook.
Dié skool is beslis in hulle noppies nadat hulle die enigste skool in Johannesburg was met vier spanne wat onlangs aan die Gauteng Kampioenskappe deelgeneem het en plekke onder die top 8 in Gauteng behaal het.
Yvette Moolman, wat die skool se bemarking en skakeling behartig, sê dat slegs Hoërskool Menlopark in Pretoria hulle kon nadoen.
“Dit is vir ons ‘n skitterende prestasie. Een van ons spanne, die onder 15’s, het nog boonop die silwermedalje ingepalm en vir die Suid-Afrikaanse kampioenskappe gekwalifiseer.
“Verder is ons eerstespan op die nasionale top 20-ranglys waar ons ‘n 18de plek beklee.”
Sy sê wat dit nog meer indrukwekkend maak is dat Noordheuwel die enigste Wes-Randse skool op die ranglys is.
“Die kersie op die koek is Gertrude Monare, ‘n Nories-eerstespanspeler, wat as een van die beste twaalf onder 17-spelers aangwys is in die Alle Ouderdomme-toernooi en boonop in die Suid-Afrikaanse span opgeneem is.”
