Reünie beplan vir ou lede van die Padwedloopklub
Dit word vir vroeg Oktober beplan sodat dit saam met die klub se jaarlikse prysuitdeling val.

‘n Reünie om al die voormalige Krugersdorp Padwedloopklub se atlete bymekaar te kry word vir vroeg Oktober beplan. Dit sal saam met die klub se jaarlikse prysuitdeling plaasvind.
Die Padwedloopklub was eers ‘n onderafdeling van die Krugersdorpse Atletiekklub, maar het in 1979 nie-amptelik gefunksioneer, waarna Tienie Coetzer die klub gedurende September 1980 gestig het. Die klub staan vandag steeds as die Krugersdorp Padwedloopklub bekend.
Die eerste amptelike span van 13 lede het in 1981 aan die Comrades-marathon deelgeneem en al die atlete het die marathon voltooi waar een silwer en 12 bronsmedaljes verower het.
Tienie het dit goed gedink om vanjaar ‘n paar ou lede soos Jan du Plessis, Piet Spanner Nienaber en Charmaine Stonehouse – wat vir ‘n lang tyd as sekretaresse gedien het – byeen te roep om ‘n reünie vir die padwedloopatlete wat nie meer lede by die klub is nie, te reël en die gevoel was positief.
‘n Beroep word dus op alle ou lede gedoen om hulle kontaknommers en ‘n e-posadresse so gou moontlik aan Charmaine by charmainestonehouse@telkom.net te rig.
Indien enigiemand van ou lede weet wat nie meer in Krugersdorp woon nie, kan daardie persone se kontakbesonderhede ook deurgegee word.
Tienie Coetzer kan by 073 501 1880 vir verdere navrae gekontak word.
