Local newsNewsSchools

Jagters reik uit en skenk boeke aan plaaslike skool

Die Transvaal-tak van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) het hulle boekrakke afgestof en boeke aan 'n plaaslike skool geskenk.

Kratte vol boeke is onlangs aan Laerskool Kwaggafontein in Tarlton oorhandig wat gebruik gaan word om die skool se biblioteek beter toe te rus.

Die boeke is deur lede van die Transvaal-tak van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) aan die skool geskenk nadat dit onder hulle aandag gekom het dat hierdie skool se biblioteek skraps toegerus is.

Ria Zeelie, voorsitter van die tak sê hulle het daarom besluit om iets te doen om meer boeke vir die skool se leerlinge te kry.

“Ons het al ons lede gevra om hulle boekrakke af te stof en ongebruikte boeke vir ’n goeie doel te skenk.”

Sy sê dat die lede positief gereageer het, wat daartoe gelei het dat ‘n hele paar kratte vol boeke by die skool afgelewer kon word.

“Hoewel baie verbeteringe in die afgelope tyd by die laerskool aangebring is, is daar steeds ’n tekort aan rakke om die biblioteek toe te rus. Ons doen ’n beroep op individue en sakeondernemings om rakke vir die skool se biblioteek te skenk,” sê Ria.

Hierdie uitreikaksie van die SAJWV se Transvaal-tak is indirek deel van sy voortgesette bewaringsaktiwiteite om mense bewus te maak van wat in hulle onmiddellike omgewing aangaan en om die klem op bewaring en volhoubare benutting te plaas.

Volgens Stephan du Toit, bewaringskoördineerder by die Transvaal-tak, beplan hulle om die laerskool by bewaringsaksies en inligtingsessies te betrek.

“Ons wil die gemeenskap en veral die jeug bewus maak van die bedreigde spesies – soos die grasuil en die brulpadda – wat nie in ons omgewing voorkom nie maar wel in die skool se omgewing, en hoe ons hierdie diere kan bewaar en beskerm. Die jeug se rol in bewaring is van kritieke belang.”

Die leerlinge van Kwaggafontein Laerskool sien uit om die nuwe boeke onder oë te kry.
Die leerlinge van Kwaggafontein Laerskool sien uit om die nuwe boeke onder oë te kry.

Enigeen wat ‘n bydrae vir Kwaggafontein Laerskool wil lewer, kan Stephan du Toit by 083 306 3441 of die skoolhoof Darly Merafe by 079 242 7382 skakel.

Individue of firmas wat van oortollige papier of plastiek ontslae wil raak en sodoende ‘n bydrae tot ‘n gesonde omgewing wil lewer, kan Deon van der Merwe van Remade Recycling in Randfontein by 011 692 3130 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button