Hoërskool Noordheuwel het televisienuus gehaal toe die Verbruikerstudie-klas smulgeregte vir ‘n nuwe resepteboek voorberei het.
Soos gesoute kokke het hulle op 31 Julie gebak en gebrou, maar die senuwees het ook geknaag oor die gedagte dat iets kan skeefloop en dit boonop voor die kameras.

Hierdie kooksessie is gehou toe die Departement van Kuns en Kultuur in samewerking met Indiza Foods verskeie skole van verskillende kulture landswyd genader het om te deel te wees van ‘n projek met die oog op die samestelling van ‘n resepteboek The culinary journey of indigenious South African food wat reeds teen Kersfees in die handel beskikbaar behoort te wees.
Noordheuwel is genader om spesifiek boerekos voor te sit en dit was ‘n miernes van bedrywighede toe smulgeregte soos ‘n lamspastei, outydse groenbone, slaphakskeentjies en potbrood voorberei is.
‘n Tafel wat pragtig in blou en wit gedek was en met inheemse blomme soos Suid-Afrika se nasionale blom die protea en Kaapse fynbos versier is, het die poging afgerond.

Daniëlla du Plooy, verslaggewer van eNuus het gereed gestaan met die mikrofoon en die opgewondenheid was groot toe Nories se kokke op die kassie verskyn het.
