Van houtskool tot glansverf
Plaashuis wat meer as tien maande gelede afgebrand het, is tot sy volle glorie herstel.
Die woning wat die Baby Moses Sanctuary gebruik het wat sowat tien maande gelede afgebrand het, het ‘n nuwe baadjie ontvang.
Alhoewel die Baby Moses Sanctuary nie meer die woning gaan gebruik nie, sal die gemeenskapswerk wat voorheen op die perseel plaasgevind het volstoom kan voortgaan.
Christo en Lanie de Klerk, die stigters van die Baby Moses Sanctuary sê die kinders wat op hierdie perseel gebly het, sal nie kan terug gaan nie omdat die gebeure hulle getraumatiseer het.
“Ons het intusssen ‘n ander huis gekry wat baie nader aan ons huis in Helderkruin is wat dit moontlik maak dat ons baie makliker tussen die huise kan beweeg.”
Hennie en Anschke van der Watt is die stigters van Exsight wat kinders van gebroke huise in die omgewing help en deur bystand te gee in spel- en arbeidsterapie.
“Ons het in Januarie besluit om ook ‘n stimulasiesentrum vir minderbevoorregte kinders op die been te bring. Verder het ons besluit om plaas partytjiegeriewe te inisiseer om fondse te bekom vir ons projekte aangesien ons geen hulp van die regering ontvang nie. Hierdie geriewe stel ons natuurlik gratis beskikbaar vir ander nie-winsgewende organisasies,” sê Anschke.
Verskeie weldoeners het besluit om die plaashuis weer te restoureer in plaas daarvan om dit te sloop.
“Met skenkings van onder andere GauTruss, De Beer’s Carpets, Kingfisher Cupboards, West End Clay Brick, West End Cement, Ranch Plumbing, M&M Waterproofing and Painting en vele andere was dit moontlik om die klassieke plaashuis te restoureer. Alhoewel hierdie projek ‘n rukkie geneem het om van die grond af te kom omdat ons eers toestemming van die eienaars moes kry, het hulle behoorlik gewikkel en in minder as ‘n maand het ‘n tot-as-verbrande murasie weer nuwe lewe gekry.”
Vyf van die oorspronklike plafonne is behou en herstel. Die hele dak en al die dakkappe is met ‘n teëldak vervang sonder om die ou styl van die sinkdak prys te gee. Al die ligte is met LED-ligte vervang wat baie langer sal hou en baie minder elektrisiteit verbruik. ‘n Gasstoof is installeer wat nog meer elektrisiteit bespaar.
Die plaaslike kerk Gemeente Sonder Grense het ook brandblussers geskenk indien ‘n brand weer sou kop uitsteek.
Die huis sal nie net dien as die woning van ‘n opsigter/bestuurder nie, daar sal ook ‘n kantoor ingerig word waarvandaan die administratiewe verpligtinge van al die projekte bestuur gaan word.
“Natuurlik het ons nog ‘n klompie goed nodig soos ‘n paar panele vir ‘n pre-cast muur, hulp met die elektriese heining, ingeboude kaste vir drie kamers, 1,5mm elektriese draad om buiteligte op te sit met plastiekpyppe waarin dit gelê kan word en dies meer.”
Anschke en Hennie sê hulle wens daar was ‘n manier om vir al die rolspelers dankie te sê.
“Ons sou dit graag wou doen, maar woorde kan nie ons dankbaarheid uitdruk nie. Die beste wat ons kan doen is om ons almagtige Vader te vra om hulle te seën soos net Hy dit kan doen. Baie dankie aan elkeen wat ‘n rol gespeel het, hoe gering dit ookal vir jou mag voel, ons waardeer dit.”
• Op 5 September 2012 het die huis, wat as een van die toevlugshuise vir ses mishandelde, verlate en verwaarloosde kinders gedien het, as gevolg van brandstigting afgebrand.
