Dominee Papp sterf op 89
Dominee Kálmán Papp, ’n Hongaarse vlugteling het op 15 Augustus op die ouderdom van 89 gesterf.
Ds Kálmán Papp, ‘n Hongaarse vlugteling wat tot dusver die enigste Hongaars-gebore predikant van ‘n reformatoriese kerk in Suid-Afrika was, het op 15 Augustus in die ouderdom van 89 gesterf.
Dié Suid-Afrikaanse stamvader van die familie Papp se lewe op aarde is op 23 Augustus tydens ‘n dankdiens in die Nederduitsch Hervormde Kerk in Krugersdorp gedenk, waar hy self vir 40 jaar lank as predikant gedien het.
Die dankdiens is deur ds Marius Venter gelei.
Papp, wat uit ‘n tradisieryke Hongaarse predikantefamilie afkomstig is (daar is minstens 17 predikante in sy voorgeslag), het in 1946 in Hongarye as predikant afstudeer en ‘n beurs ontvang om in Nederland aan die Rijksuniversiteit van Utrecht met sy doktorale studie voort te gaan.
Terwyl hy in Nederland was het hy verneem dat hy in Hongarye gesoek word op grond van beweerde oorlogsmisdade omdat hy tydens die Tweede Wêreldoorlog uit selfverdediging twee Russiese soldate om die lewe gebring het.
Aangesien Nederland ‘n uitleweringsooreenkoms met Hongarye gehad het, het hy toe in Oktober 1949 uitgewyk na Suid-Afrika.
In Januarie 1950 registreer hy vir ‘n DD-graad aan die Universiteit van Pretoria en lê ‘n proponentseksamen in April die daaropvolgende jaar af. In Junie dieselfde jaar is hy in die huwelik bevestig is met Wilhelmina Shilling.
Vyf kinders is uit hierdie huwelik gebore.
In November is hy georden en bevestig in die Nederduitsch Hervormde Gemeente Krugersdorp.
Van 1960 tot 1990 het Papp onder andere naturalisasie as Suid-Afrikaanse burger gekry, pastorale hulp aan die Outjo-gemeente in Namibië verleen en amnestie in Hongarye verkry.
In 2003 ontvang hy ‘n diensmedalje van die Hongaarse regering en in 2008 is hy die trotse ontvanger van ‘n ereprofessoraat van die Teologiese Akademie van die Hervormde Kollegium van Sárospatak in Hongarye.
Papp is tydens ‘n private geleentheid veras en laat sy vrou, drie kinders, nege kleinkinders en een agterkleinkind agter.

