Bejaardes met musiek en worsrolle bederf
'n Eiendomsagentskap het sowat 220 bejaardes van die Luipaardsvlei Ouetehuis met 'n heerlike dag bederf.
Voor van links is Ann Coetzee, Ria Louw en Hannah Olivier, inwoners van die ouetehuis wat die dag vreeslik geniet het.
Die bejaardes van die Luipaardsvlei Ouetehuis is op 24 Augustus met musiek, tee en kolwyntjies en worsrolle met pap, sous en slaai bederf toe National Letting, ‘n eiendomsagentskap besluit het om vir die gemeenskap iets terug te gee.
Johann Grobler, ‘n eiendomsagent, wat die saal versier het en die klank voorsien het, sê hulle het reeds van vroeg af ‘n lekker program vir die sowat 220 bejaardes aangebied.
Die opkomende sanger Louw Viljoen het verskeie bekende treffers van Bles Bridges, Manuel Escorcio en Elvis Presley asook liedjies van sy jongste album Naby my, wat pas vrygestel is, gesing terwyl nog ‘n opkomende sanger Claudine haar gehoor met musiek soos Tina Turner se Simply the best en Gé Korsten se bekend liedjie Liefling bekoor het.
Johann bedank almal wat ‘n bydrae tot die dag se sukses gelewer het.
“‘n Spesiale dank gaan aan die Vleispot wat die wors geborg het, aan Faith Revival Ministries vir die geldelike bydrae asook vir Nigel Owen en Mark van der Merwe wat met die broodjies gehelp het.”
Ann Coetzee, Ria Louw en Hannah Olivier is drie van die inwoners wat die funksie bygewoon het, en hulle sê dat hulle dit baie geniet het en lekker saam met die sangers gesing en hande geklap het.
