Persoonlike beste vir Juan-Marié by Hyrox-wêreldkampioenskappe
Juan-Marié Herbst het 'n persoonlike beste tyd opgestel en as die beste Suid-Afrikaanse vrou in haar afdeling by die Hyrox-wêreldkampioenskappe geëindig.
Hyrox-atleet Juan-Marié Herbst van Noordheuwel het uitstekend gevaar tydens die Hyrox-wêreldkampioenskappe in Stockholm, Swede.
Sy het op 19 en 21 Junie in die Pro Solo Women- en Mixed Doubles-kategorieë deelgeneem. In die Mixed Doubles-afdeling het sy saam met haar spanmaat, Pieter Smith, meegeding.
“Dit was ‘n ongelooflike belewenis. Net om saam met die beste atlete ter wêreld te kon meeding, was ‘n fantastiese gevoel. Die adrenalien wanneer jy in die wegspringtonnel staan, is iets wat ‘n mens nie regtig aan ander kan beskryf nie,” het Herbst gesê.

In die Pro Women 30–34-afdeling het sy met ‘n tyd van 1:07:08 as 25ste in die wêreld geëindig. Die tyd was haar persoonlike beste, en sy was ook die beste Suid-Afrikaanse vrou in dié afdeling.
• Lees ook: Noordheuwel se Herbst op pad na Hyrox Wêreldkampioenskappe in Swede
Herbst en Smith het ook uitstekend gevaar in die Mixed Doubles 30–34-afdeling, waar hulle met ‘n tyd van 57:18 as 39ste in die wêreld geëindig het. Hulle was ook die beste Suid-Afrikaanse gemengde span in hul ouderdomsgroep.

Volgens Herbst was haar grootste hoogtepunt by die kampioenskappe dat sy haar persoonlike beste tyd kon verbeter.

Haar volgende uitdaging is Hyrox Kaapstad, waar sy aan die Pro Solo-, Pro Women’s Doubles- en Mixed Doubles-kategorieë gaan deelneem.
“My doel is om in al drie kategorieë vir die 2027 Hyrox-wêreldkampioenskappe te kwalifiseer,” het sy gesê.