Local newsNews

Huis Jerusalem voed honger mae al 20 jaar lank

Dié niewinsgewende organisasie is 'n gemeenskapsprojek wat daagliks sowat 80 kinders voed.

Om die voortbestaan van Huis Jerusalem te verseker, word die gemeenskap aangemoedig om steeds ‘n bydrae tot hierdie nie-winsgewende organisasie te doen. Dit is ‘n gemeenskapsprojek wat hierdie jaar sy 20ste bestaansjaar onder die beskerming van die Nuwe Lewe Kerk vier.

Ann Labuschagné, wat as die bestuurder reeds vir sowat vier jaar die sake rondom Huis Jerusalem behartig, sê die voortbestaan van dié organisasie is afhanklik van skenkings en borge.

“Ons is baie trots dat dit ons twintigste bestaansjaar is en dat ons daagliks ‘n gebalanseerde maaltyd aan sowat 80 behoeftige kinders in ons gemeenskap, veral die kinders van Burgershoop, Appelpark en Krugersdorp-Wes voorsien.”

Sy sê vir baie van die kinders, wat leerlinge aan Laerskool Paardekraal, Laerskool Ebenhaeser en Pro-Practicum Skool is, is dit hulle enigste maaltyd vir die dag.

Sodra die kinders hulle maaltyd gehad het, word daar toegesien dat hulle huiswerk en take volledig gedoen word.

“Hiermee leer ons die kinders verantwoordelikheid, selfdissipline en maniere om hulleself beter in hulle gemeenskap te handhaaf.”

Die kinders waarna hulle omsien strek van ‘n dogtertjie en seuntjie van net meer as ‘n jaar oud is, tot en met tieners van 18 jaar oud.

Ann sê haar staatmakers is Christina Mogale wat reeds vyf jaar lank die skoonmaker is en Leen Viljoen wat al soos ‘n meubelstuk is en reeds tien jaar lanks elke dag agter die kospotte staan om seker te maak dat die kinders ‘n heerlike maaltyd kry.

Die organisasie bedryf verskeie projekte soos om klere en dies meer te verkoop om geld in te samel.

Ann sê mense wat op enige manier ‘n bydrae wil lewer, kan haar by 078 494 1031 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button