Verkeerslig se kinkel in die kabel
'n Padgebruiker van die N14-hoofweg glo dat die verkeerslig by die Silverstar Casino met die een by die Pinehaven-kruising gesinchroniseer moet word.
Tommy Laubscher, ‘n Randfonteinse inwoner wat reeds vir 20 jaar lank van die N14-hoofweg gebruik maak sê die nuwe veranderinge by die verkeersligte van die Pinehaven-kruising maak ‘n groot verskil, maar daar is steeds ‘n kinkel in die kabel.
Volgens hom is die verkeersligte by die Pinehaven-kruising slegs 30 sekondes groen en so ook die verkeersligte by die Silverstar Casino.
“Met die pad wat vernou tot basies twee bane en ‘n toevloei vanaf Hendrik Potgieterweg na Krugersdorp, hoop die verkeer so op tussen die kruising en die casino dat ek, terwyl die verkeerslig groen was, by die kruising moes wag vir nog ‘n siklus voordat ek kon oorsteek. Daar was net nie plek vir nog ‘n motor nie.”
Laubscher sê hy reken dat die verkeerslig by die Pinehaven-kruising vir een minuut gestel moet word en die verkeerslig by die casino vir een en ‘n halfminuut.
“As die ligte so gesinchroniseer word, glo ek dat die verkeer genoeg sal dreineer om weer op te vul wanneer die verkeerslig by die kruising na groen verander.”
Hy sê hy dink die beste oplossing sal wees as daar van 4.30nm af puntdiens gedoen word en die verkeersligte volgens die verkeer aangepas kan word.
“Daar is tans net ‘n verbetering op die hoofweg voordat jy die kruising binnegaan. Daarna gaan die verkeer steeds teen ‘n slakkepas by die casino verby.
“Die mense het al ‘n grondpad teen die wal uitgery om die verkeer tussen die kruising en casino te vermy. Hulle klim dus links teen die wal af en ry dan in die systraat op tot by die casino, waar hulle om die casino se sirkel ry en dan weer by die verkeer aansluit.”
Die NUUS het voorheen met verkeersbeamptes by hierdie kruising gesels en hulle het toe gesê dat hulle nie puntdiens sal kan doen nie, omdat hulle nie hul lewens in gevaar wil stel nie.
“Wanneer voertuie hierdie kruising oorsteek, is puntdiensbeamptes die laaste ding wat hulle verwag en dit sal gevaarlik wees omdat ons raakgery kan word.”
Nkosana Zali, die munisipale woordvoerder vir Mogale City Plaaslike Munisipaliteit het voorheen gesê dat die verkeersknope net tydelik is en binnekort iets van die verlede sal wees.
“Ons sal voortaan steeds die verkeersligte by hierdie kruisings reguleer en dophou.”
Hy vra dat mense geduldig moet wees aangesien werk aan die Cradlestone Mall-projek steeds aan die gang is.
