Karavaankampatleet verloor borgskap weens swangerskap
Vyftienjarige atleet se loopbaan mag in gedrang wees weens 'n onbeplande swangerskap.
Kroningspark-inwoner en 15-jarige atleet Irene van Niekerk sal vir eers haar hardloopskoene moet ophang nadat die heldin van die wit plakkerskamp uitgevind het dat sy swanger is.
Van Niekerk het internasionaal opslae gemaak met haar inspirerende lewensverhaal as ‘n Krugersdorpse langafstandatleet wat ten spyte van armoede en ‘n fisiese gebrek op ‘n baie jong ouderdom wêreldrekords geslaan het. Sy is selfs in mediaberigte met die bekende Zola Budd vergelyk.
Is haar sterstatus nou in gedrang; het sy haar kanse verspeel om die rooskleurige toekoms te hê wat die media dalk ietwat voortydig vir haar voorspel het?
Volgens pastoor Lourens Groenewald wat al sewe jaar ‘n pad met die Van Niekerk-gesin stap, het een van Irene se grootste borge reeds onttrek totdat sy weer kan oefen – wat volgens hom kort na die geboorte van die baba sal wees.
“Irene was ten tye van die nuus op pad na Phoenix in Arizona, met ‘n Amerikaanse borgskap, maar al het die Amerikaner onttrek, dit sal nie ‘n negatiewe impak op Irene hê nie,” meen Groenewald.
“Sy gaan die kind grootmaak en die beste ma wees wat sy kan.”
Hy vertel dat Irene en haar ouers sterk gekant is teen enige alternatiewe soos aanneming.
“Die jong Irene se ma, ook Irene het reeds genoem dat hulle die baba (blybaar ‘n seuntjie) na my wil vernoem.”
Groenewald het in ‘n onderhoud met die NUUS gesê dat die pa (18) van die kind hom reeds finansieel verbind het tot die baba en dat hy beloof het om onderhoud te betaal.
Vrae oor moontilke regstappe en die implikasies vir die tienerseun wat ‘n seksuele verhouding met die minderjarige Irene aangeknoop het, is tans onbeantwoord omdat die Van Niekerk-gesin hul reg uitgeoefen het om kommentaar te weerhou.
Ander borgskappe soos Reebok het aan die NUUS gesê dat hul borgoreenkomste van bepalings en voorwaardes afhang en dat daar besin sal word oor verdere betrokkenheid by die jong atleet.
