300 komberse bring winterwarmte na Plastic View
Danksy Together We Bloom en hul vennote het 300 kwesbare inwoners komberse ontvang om hulle deur die koue wintermaande te help.
Driehonderd inwoners van Plastic View het op 3 Julie komberse ontvang toe die plaaslike liefdadigheidsinisiatief Together We Bloom sy jaarlikse winteruitreik na die informele nedersetting gebring het.
Plastic View, aan die voet van die mynhoop, is een van verskeie gemeenskappe waar die organisasie vanjaar winterhulp versprei het.
Volgens projekspanlid Stephan Zeeli is die uitreik in samewerking met plaaslike organisasies en vennote aangebied.
“Ons het saam met plaaslike organisasies en vennote kwesbare mense bereik en 300 komberse uitgedeel,” het hy gesê.
Stephan het gesê die doel van Together We Bloom is om deur praktiese hulp en betekenisvolle betrokkenheid hoop in gemeenskappe te bring.
“Met die winterkoue het ons geweet dat ‘n kombers vir baie mense meer beteken as net warmte – dit bied troos en die wete dat iemand omgee.”
Volgens hom was die hoogtepunt van die dag om die ontvangers se dankbaarheid te beleef.
“Een oomblik wat my besonders geraak het, was toe ‘n ontvanger die kombers met albei hande styf vasgehou het. Dit het opnuut bevestig dat selfs ‘n eenvoudige geskenk ‘n groot verskil in iemand se lewe kan maak.”
Hy het donateurs en vennote vir hul ondersteuning bedank.
“Geen organisasie kan dit alleen doen nie. Wanneer ‘n gemeenskap saamstaan, kan ons werklik ‘n blywende verskil maak.”