Markdag vol gees en plesier
'n Markdag is by die Golden Age Village gehou waar allerlei lekkernye en selfgemaakte goedere te koop aangebied is.
Die geur van boerewors het die neusgate gevul terwyl lekkernye en selfgemaakte produkte tydens die Golden Age Village (GAV) se markdag op Saterdag 7 September te koop aangebied is.
Verskeie inwoners en besoekers het self hulle ware op hierdie dag uitgestal en vir baie is die markdag ‘n manier om ‘n ekstra inkomste te genereer.
Val en Raymond, inwoners van GAV wat deel was van die span wat die boereworsstalletjie beman het, sê dit is die tweede markdag wat by die ouetehuis gehou word en sover was hierdie een vir hulle nog die lekkerste.
By ‘n stalletjie waar kos en lekkernye te koop was, het Pop Adlem, Meisie Maraz, en Jasper en Elize Bothma die fort gehou.
“Die kerrie en rys het regtig flink verkoop – so vinnig dat ons inderhaas nog maalvleis moes gaan koop vir ‘n bestelling wat reeds geplaas was.”
Die terte, kolwyntjies, piesangbrood, jaffels en vetkoek en maalvleis is deur die nag voorberei en is ook vinnig opgeraap.
Hulle sê die weer is nie al wat dié dag saamgespeel het nie; die gees onder die mense wat kom kyk het wat te koop aangebied is, was ook ‘n pluspunt.
Minnie Pretorius, die president van die Rotary Anns sê dat GAV ‘n projek van die Rotariër Vereniging van Krugersdorp is en gebou is om behuising te voorsiening vir persone vir wie ‘n staatspensioen hulle enigste inkomste is.
“Die Rotariërs en Anns is aktief betrokke by die inwoners, met die uitsluitlike doel om hulle te help om ‘n kwaliteit bestaan te voer.”
Sy sê benewens ander funksies en geestelike byeenkomste soos Bybelstudie word die markdag kwartaalliks aangebied.
“Die inwoners asook persone van buite kan stalletjies bekom waar hulle hul eie produkte te koop kan aanbied. ‘n Geringe persentasie van hul inkomste word aan die inwonersfonds geskenk, wat aangewend word vir verbeteringe aan die gronde en geboue.”
Die Rotary Anns deel jaarliks voedselpakkies aan elkeen van die 130 inwoners uit om hulle gedurende die feestyd van iets spesiaal te voorsien.
Hiervoor benodig hulle blikkieskos en ander nie-bederfbare produkte.
Indien iemand ‘n skenking wil doen, kontak vir Minnie by 011 762 8911 of by 072 124 6554.
