Onwettige bedrywighede of ‘n uitkoms?
Ondersoek is ingestel om vas te stel of die stigter van 'n tuisonderrigsentrum besig is om ouers te flous.
Die negatiewe publisiteit wat ‘n beweerde onwettige tuisonderrigsentrum in Krugersdorp-Wes onlangs gekry het, kan deur sommige dalk as ‘n persoonlike aanval op ‘n vrou, wat ‘n verskil probeer maak, beskou word.
Twee bekommerde vroue, wat toevallig tevore helpers by hierdie spesifieke tuisonderrigsentrum was, het die NUUS genader oor Elnet Snyman en haar skool, die Braambos Leeruitkomssentrum.
Die sentrum word vanuit haar huis bedryf waar sy tans sowat 36 kinders met tuisonderrig help. Hierdie kinders word as probleemkinders beskou wat permanent uit openbare skole geskors is.
Die NUUS het besluit om die inligting oor hierdie geval in verskillende afdelings vir ons lesers aan te bied.
Wat is tuisonderrig en wat sê die wet daaroor?
‘n Woordvoerder van Impak – ‘n verskaffer van produkte en dienste vir tuis- en hulpsentrumonderrig – verduidelik tuisonderrig so: “Tuisonderrig is ‘n keuse wat die gesin maak. Die rede vir die besluit is ‘n eskalasie van ‘n reeks gebeure wat die opsies tot tuisonderrig verminder het. Hierdie besluit betrek die ouers en die kinders, waar elke gesinslid deeglik bewus is van die verantwoordelikhede wat verlang word om die besluit ‘n sukses te kan maak.”
Die wet sê dat enige kind bo die ouderdom van 15 nie meer skoolpligtig is nie, daarom hoef openbare skole nie die kind te aanvaar nie. Dit is dan die ouers se verantwoordelikheid om die kind by tuisonderriginstansies (soos Impak en Word in Truth) of selfs Verdere Onderwys en Opleiding (VOO) kolleges in te skryf om matriek te verwerf.
Die probleem
Isabella Krog en Chantel Bailey het die NUUS gekontak aangaande Snyman en haar sentrum. Die vroue het beweer dat wat Snyman besig is om te doen, verkeerd is en dat sy die ouers van die kinders by haar sentrum om die bos lei. Krog se dogter was ‘n leerling by die sentrum en Snyman het glo vir haar ‘n vervalste matrieksertifikaat uitgereik.

Krog het aan NUUS-joernalis Jacobus Myburgh verduidelik dat sy en Bailey ‘n geskil met Snyman gehad het en dat hulle besluit het om hulle eie tuisonderrigsentrum in Randfontein te open. Hulle het Snyman daarvan beskuldig dat sy vervalste inligting van verskeie tuisonderrigbeheerliggame gebruik en dat ouers gelde vir hulle kinders se registrasie by dié liggame aan haar betaal, maar dat dit dan reguit na haar sak toe gaan.
Krog het kontantstrokies vir Myburgh gewys wat toon dat Snyman geld aanvaar. Hierdie geld is glo registrasiegelde.
Wat sê Impak?
Die NUUS het met ‘n woordvoerder van Impak gesels wat van Snyman en haar sentrum bewus is.
“Impak het Snyman se aansoek as ‘n Impak-sentrum om verskeie redes afgekeur, waarvan een bedrog is. Snyman is besig om die ouers te flous en ons het haar al in die hof aangevat omdat sy ons materiaal dupliseer. As ‘n ouer ons webwerf besoek, sal hulle ‘n lys van geregistreerder Impak-sentrums daar kan aftrek. Maar dis gewoonlik die oningeligte ouer wat deurloop. Snyman se gelde is gewoonlik baie aantreklik en ouers is maar al te gewillig om hulle kinders van die rusbank af te kry.
“As ‘n ouer weet hoe Impak werk, sal hulle weet dat wat Snyman doen nie reg is nie. Al manier hoe Snyman gestop sal word, is as ouers haar aanvat vir diefstal. Omdat daar baie sulke kansvatters is, moet ouers hulle huiswerk baie deeglik doen voor hulle hulle kinders vir tuisonderrig by ‘n sentrum inskryf,” sê die woordvoerder.
Wat sê Word in Truth (WiT)?
Direkteur van WiT, George van Diggelen was hewig ontsteld toe die NUUS met hom oor Braambos gesels.
“Daar is geen kind by Braambos wat by WiT geregistreer is nie. Sy is besig om Christelike liggame soos WiT se naam deur die modder te sleep en ons is reg om stappe teen haar te neem. Sy gebruik ook ons materiaal en ons het nou genoeg gehad van Snyman en haar bewerings,” sê Van Diggelen.
Wat sê Elnet Snyman?
Tydens NUUS-redakteur Janine Viljoen se besoek aan Braambos is sy met ope arms ontvang.
“Snyman het my deur haar huis geneem waar kinders oral besig was om gereed te maak vir die skooldag. Hulle het gewone klere aangehad en het gemaklik met mekaar gesels terwyl hulle koffie gedrink het. Party was laat terwyl ander solank by hulle banke, wat orals in verskillende vertrekke in die huis gestaan het, gaan sit het,” sê Viljoen.
Verskeie vrae is aan Snyman gerig, en sy het onder meer erken dat sy Impak se materiaal dupliseer.
“Ek moes afskrifte maak omdat sommige kinders nog vir hulle handboeke gewag het. Hoe anders moes ek hulle dan onderrig het?” vra Snyman.
Sy het verduidelik dat dit die ouers se verantwoordelikheid is om hulle kinders by die beheerliggame te registreer en dat sy as ‘n tutor optree. Sy vra ‘n minimale bedrag vir haar dienste en hanteer glad nie enige ander gelde nie. Sy gee ook ekstra klasse aan laerskoolkinders wat in die middae by haar sentrum aanmeld. Sy noem dat sy glad nie die vraestelle vir toetse opstel nie en dat alles van Impak en WiT kom. Viljoen het haar gevra oor die sogenaamde vervalste matrieksertifikate, waarop
Snyman geantwoord het dat die Departement van Onderwys dit uitreik. Sy het ‘n paar sertifikate aan Viljoen gewys, wat die registrasienommers neergeskryf het en aan Umalusi gestuur het.
Snyman het op die oomblik nie matrikulante by haar sentrum nie omdat hulle ouers hulle uit Braambos gehaal het weens Krog en Bailey se beskuldigings.
Daar is ook tans leerlinge by Snyman wat onderrig word in woedehantering en vaardigheidsontwikkeling.
“Ek help hierdie kinders om hulle voor te berei vir die grootmenswêreld. Skole wil hulle nie meer hê nie en iemand moet hulle leer hoe om daarbuite te funksioneer. Wie anders gaan dit doen?” vra Snyman. Sy noem dat sommige kinders daar is vir ‘n getuigskrif en nie noodwendig vir ‘n matrieksertifikaat nie.
“Party mense wil net weet dat hierdie kinders met hulle sosiale probleme gehelp word en dat hulle deel van die samelewing kan wees sonder enige persoonlike struikelblokke.”
‘n Leerling, wat nie geïdentifiseer mag word nie omdat hy minderjarig is, het vir die NUUS vertel hoe hy by Braambos uitgekom het.
“Ek is uit my ander skool geskop omdat ek die onderwyser aangerand het. My ma het van Braambos gehoor en ek is toe ingeskryf. Elnet help my baie met my dissipline en woede, en my punte het ook drasties verbeter omdat sy my as persoon verstaan en vir my die aandag gee wat ek nodig het.”
Snyman noem dat selfs die Krugersdorpse SAPD se Dwelmeenheid van Braambos se dienste gebruik maak wanneer hulle kinders met dwelmverslawing wil help, omdat geen ander openbare skool die kinders wil aanvaar nie.
Wat sê die ouers?
Debra de Bruyn, wat op die ouerkomitee dien, se kind is tans by Braambos en sal sy matriek daar voltooi.
“My kind se punte het geweldig verbeter en ek is baie gelukkig met Elnet en haar spannetjie. Sy gee elke kind spesiale aandag, iets wat hulle nie in ‘n gewone skool sou ontvang nie. Sy help hulle met hulle probleme, verbeter hulle mensvaardighede en motiveer hulle om op alle vlakke te verbeter. Ek glo glad nie daardie skinderstories wat die rondte doen nie,” sê De Bruyn.
Christene Roux het haar kind uit Braambos gehaal toe sy van die geskil tussen Snyman en die twee vroue gehoor het.
“Ek was baie tevrede met Snyman se werk en diens, en is selfs deur Krog soontoe gelok. Maar na hulle persoonlike geskil het ek besluit om my kind te onttrek totdat ek presies weet wat aangaan. Intussen sukkel ons om hom by ‘n skool in te kry. Hy sit al vir ses maande by die huis met net Graad 11 agter sy naam,” sê Roux. Roux het aan die NUUS genoem dat Krog en Bailey weens salarisprobleme by
Braambos weg is en dat hulle hulle eie onderneming wou begin, en dat sy nie wil hê dat sy of haar kind by hulle persoonlike probleme betrokke moet raak nie.
Wat sê Umalusi?
Umalusi is verantwoordelik om te verseker dat alle verskaffers van onderwys en opleiding in die land aan sekere standaarde en kriteria met die verskaffing van gehalte-onderwys aan hulle leerlinge voldoen.
Dr Mafu Rakometsi, Hoof Uitvoerende Beampte van Umalusi het aan die NUUS bevestig dat die registrasienommers van die matrieksertifikate wat Snyman aan Viljoen gewys het, geldig is. Die Umalusi Raad is deur die Minister van Basiese Onderwys aangestel en gematig om te verseker dat assesserings billik, geldig en betroubaar gedoen word.
Die Gauteng Departement van Onderwys het glo ook vroeër vanjaar by Snyman besoek afgelê en kon haar nie registreer as ‘n leersentrum nie omdat haar fasiliteit nie as skool geskik is nie. Die NUUS het nog geen ander terugvoering van die Departement van Onderwys ontvang nadat ‘n versoek aan hulle gerig is nie.
Opsomming
“Ek het hierdie inligting pertinent so saamgestel dat u, die leser, u eie gevolgtrekking kan maak. Dit is vir my duidelik dat wanneer ‘n ouer besluit om hierdie roete te volg, deeglike navorsing gedoen moet word voordat ‘n finale besluit geneem word.
“Alhoewel Impak en WiT hulle woede uitgespreek het oor Snyman en haar skool, kom dit voor asof sy werklik ‘n belangrike diens lewer vir die probleemkinders wat by haar ingeskakel het.
“My persoonlike mening is dat die bewyse van Snyman se onwettige optrede in hierdie stadium nie so oorweldigend soos die nood is wat sy vir haar leerlinge en dié se ouers help verlig nie. Daar is ‘n groot behoefte aan die soort diens wat sy verskaf en Snyman voel dat ‘n moddergooiery haar gaan forseer om regstappe teen Krog en Bailey te neem,” eindig Viljoen.
Die NUUS wil graag u mening hoor oor Snyman en die dienste wat sy lewer. Gee gerus u siening onder aan die artikel.
