Verjaardagrokkie in brand vernietig
Die swart mure van 'n ou Krugerdorp-huis vertel 'n hartseer storie.
‘n Stukkie van Krugersdorp se vroeë argitektuur wat met sorg deur Appelpark-inwoner Hester Broderick (56) in stand gehou is vandat sy 18 jaar gelede in haar munisipale huis in Bustonstraat ingetrek het, is deur ‘n verwoestende brand beskadig.Op Sondag 15 September was Broderick by die werk toe haar kleindogter wat in die erf gespeel het ‘n rookmassa in die hoek van die huis gesien het.
“Dit brandweer is ontbied en hulle het binne 10 minute opgedaag. Hulle het seker gemaak dat niemand beseer is nie maar binne etlike sekondes is die meeste van my besittings deur die vuur verwoes,” vertel sy.

“Toe ek by die huis instap, was die mure reeds pikswart en die oorweldigende reuk van rook was oral; selfs die tropiese visse in my vistenk het van die rook gevrek.”
“Die huis en die min besitting daarin was my trots,” vertel Broderick terwyl sy na die swart as staar wat die dag vantevore nog haar familiefoto’s en ornamente was.
“Daar is items wat vervang kan word maar die foto’s en sentiment wat daaraan geheg is, kan nie vervang word nie.”
Sy het aan die NUUS vertel dat alles gereed was om vir haar negejarige kleindogter ‘n verjaarsdagpartytjie te hou, maar dat haar verjaardagrokkie in die brand vernietig is.
“Dit lyk of dit ‘n elektriese kortsluiting was wat die brand veroorsaak het,” meen DA Wyksraadslid Jakkie Naudé.
Kort nadat hy oor die voorval ingelig is, het Naudé die familie bygestaan en skenkings soos komberse en kussings moontlik gemaak wat later deur Mug and Tree Gemeenskapsentrum oorhandig is.

Kort voor die NUUS se besoek het Mogale City-werkers die huis besoek om die skade te beraam.
Die NUUS sal sy leser verder oor die saak inlig sodra die oorsaak van die brand bepaal is en herstelwerk begin het.
