NewsSchools

Curro se wedloop begin

Curro Krugersdorp Private Skool is onlangs amptelik geopen.

‘n Dag van koek eet, ballone die lug instuur en na die wyse woorde van Curro Krugersdorp Private Skool-personeel luister, is hoe dié skool op 30 Augustus na agt maande offisieel geopen is.

Ouers en genooide gaste het reeds in die saal gesit toe al die leerlinge met kerse ingestap het. Dit is gevolg deur ‘n skriflesing deur ds Manie Botha wat gepraat het oor hoe elke leerling die wedloop van die lewe aandurf.

Eddie Conradie, Curro Holdings se bemarker het gespot en gesê dat die leerlinge seker wonder wie hierdie ou man is wat voor hulle staan.

“Ek is ‘n onderwyser en is bly om hierdie dag saam met julle te kan beleef.”

Hy was al verskeie kere by die skool om die bemarking te behartig en is trots op die feit dat daar al 26 skole in Suid-Afrika onder die Curro-vaandel is.

“Ds Manie het die woorde sowaar uit my mond geneem, want ek wou ook praat oor die lewe as ‘n wedloop. Curro in Latyns beteken ‘die wedloop van die lewe’ – sodra ons gebore is begin ons met daardie wedloop tot die dag dat ons sterf,” sê Eddie.

“Ons sê vir ons leerlinge dat hulle hierdie wedloop moet hardloop en ons berei hulle voor vir die wedloop van volwassenheid.”

Hy sê in hierdie wedloop kan almal nie altyd met die eerste plek beloon word nie, maar jy kan jou beste gee in dit wat jy wil vermag.

Vir die hoof van die skool, Annemarie Lombard het hy net lof.

“Sy is die kaptein van hierdie skip en die skool het ‘n hoof gekry met ‘n standvastige geloof in God.”

Annemarie sê toe sy sien hoe die leerlinge met kerse die saal instap, was sy ‘n klein bietjie emosioneel.

“Wat vandag hier plaasvind is deel van die skool se geskiedenis en almal wat vandag hier teenwoordig is, is deel daarvan.”

Kinders het die offisiële opening van Curro Krugersdorp Private Skool begin deur met kerse die saal in te stap.
Kinders het die offisiële opening van Curro Krugersdorp Private Skool begin deur met kerse die saal in te stap.

Daarna is die gedenkplaat waarop die amptelike opening bevestig word, geteken en toe is ‘n rooi lint geknip.

“Aan al die omliggende skole in die area, ons is nie hier om vir julle kompetisie te wees nie. Julle is soos familie wat welkom sal wees om van ons fasiliteite gebruik te maak en ons geriewe te huur. Ek dink Krugersdorp het nog skole nodig en daarom moet ons hande vat in die onderwys.”

Die leerlinge is daarna na die grasperk toe waar hulle die naam Curro in letters gevorm het en blou ballonne die lug ingestuur het om die opening te vier.

• Curro Krugersdorp Private Skool het tans sowat 500 leerlinge en die skool is nog nie heeltemal klaar gebou nie. Die fases vir die Graad 6- en 7-klasse moet nog voltooi word, waarna die skool dan sowat 1 200 kinders sal kan huisves.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button