Local newsNews

Nuwe hoof wil pad met gemeenskap stap

Hoërskool Monument se nuwe hoof het die versekering gegee dat die skool se ryk tradisie sal bly voortbestaan.

‘n Liefde vir mense en veral om met kinders te werk is die rede waarom Johann Calitz (49), die nuwe hoof van Hoërskool Monument, die onderwys as beroep gekies het.

“Daar is nie ‘n enkele verveelde oomblik wanneer ‘n mens in hierdie beroep is nie en ek sien daarna uit om die tradisie wat by hierdie skool is, lewend te hou.”

Johann, wat voorheen vir ses jaar die skoolhoof by Hoërskool Nylstoom in Modimolle in Limpopo was, het die leisels oorgeneem by Koos du Toit, die vorige skoolhoof wat einde Junie afgetree het.

“My visie vir hierdie skool is om te sien dat die leerlinge en die onderwysers presteer.”

Hy sê hy sien daarna uit om deel van die Krugersdorp-gemeenskap te word en ‘n pad saam met die mense van hierdie omgewing te stap.

“Die pos was ‘n geleentheid wat oor my pad gekom het en ek het besluit om daarvoor aansoek te doen omdat ek glo dat ek op my unieke manier ‘n verskil sal kan maak om die skool verder op te bou.”

Hy sê hy weet dat die skool baie gesteld is op tradisie, maar ook dat dit ‘n spogskool is in terme van sport en akademie.

“As mense van dié skool praat dan weet almal wie Monnas is. Ek gaan dus die bestaande stelsels behou en saam met die personeel en beheerliggaam verbeterings aanbring waar dit nodig is.”

Johann se vrou Marlene (49), ‘n onderwyseres in Gasvryheidstudies sal vir eers nog in Modimolle aanbly totdat sy ‘n pos in die Wes-Rand-omgewing kry.

“Op die oomblik is daar nog gemengde gevoelens oor die tydelike skeiding tussen ons, want die pos het baie gou in my sak beland.”

Marlene sal intussen ook al die take daar afhandel voordat sy permanent by haar man aansluit.

“Ek is baie bly dat hy hierdie pos gekry het en ek gun dit vir hom. Ek is baie opgewonde saam met hom.”

Johann se onderwysloopbaan het 27 jaar gelede begin nadat hy sy BA-graad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal het.

Daarna het hy eers twee jaar diensplig gedoen voordat hy as onderwyser by Hoërskool Brits in Noordwes en toe by Hoërskool Louis Trichard in Limpopo sy lewenskennis met leerlinge gedeel het.

Nie een van die egpaar se twee kinders dink daaraan om in hulle ouers se voetspore te volg nie. Stefan (21) boer voltyds met angorabokke naby Aberdeen in die Oos-Kaap, terwyl hulle dogter Linzetta (19) ‘n BCom in kommunikasiebestuur aan die Universiteit van Pretoria studeer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button