Môreglans doen dit sommer self
Die span werk vanuit die tehuis se kantore en is nou die enigste amptelike fondsinsamelaar vir die SAVF Môreglans Tehuis.
Een van die eerste tehuise vir bejaardes in die land, die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) Môreglans Tehuis vir Bejaardes in Krugersdorp, het op 1 September weer ‘n eerste geregistreer deur ‘n eie telebemarkingsprojek, die Môreglans Helpende Hand, van stapel te stuur.
Die projek is ontwerp en bekendgestel onder leiding van die diensbestuurder van die tehuis, Henry Albertyn – ‘n welbekende afgetrede sakeman van die Wes-Rand en mede-stigter van Cradle of Hope.
Die span werk vanuit die tehuis se kantore en is nou die enigste amptelike fondsinsamelaar vir die SAVF Môreglans Tehuis.
Die res van die span bestaan uit Susan Engelbrecht (bemarkingsbestuurder) asook Engela (admin), Nadine en Greg (bemarkers) en Paul Botha as drywer.
Die stap is gedoen omdat net ‘n klein deeltjie of bitter min van die fondse wat talle privaat organisasies vir liefdadigheid insamel, in die tehuis se koffers beland.
Henry het gesê dat die onkontroleerbare en bedenklike praktyke die tehuis gedwing het om in te gryp en die misbruik van SAVF Môreglans se naam en NPO-nommer te probeer voorkom.
Terselfdertyd kan die tehuis se inwoners nou die volle voordele kry van ‘n goedbeplande fondsinsamelingsprojek wat deur ‘n professionele en entoesiastiese span behartig word te midde van die nypende finansiële tekorte.
Die bestuurder, Gerrie van Rooyen het beklemtoon dat daar baie welwillende harte vir bejaardesorg onder die publiek en die sakesektor is en hy het die publiek verseker dat hulle nou met ‘n oop gemoed en geruste hart hierdie projek kan ondersteun.
Elkeen wat iets deur Môreglans Helpende Hand koop of finansieel bydra kan verseker weet dat dit direk tot voordeel van die tehuis strek.
Die publiek word ook genooi om meer oor die projek en die tehuis self op die webwerf www.moreglans.co.za te wete te kom.
Vir meer inligting, skakel gerus 011 660 2209 of stuur ‘n epos na moreglanshelpendehand@gmail.com.
