Jong stapatleet droom van Olimpiese prestasies
'n Stapatleet droom om eendag haar land by die Olimpiese Spele te verteenwoordig.
‘n Droom om eendag haar land by die Olimpiese Spele te verteenwoordig is hoe ‘n stapatleet haar loopbaan in dié sport beskryf.
Udelle de Winnaar (16), ‘n leerling van Hoërskool Noordheuwel het onlangs aan die Suid-Afrikaanse Stapkampioenskappe in Kaapstad deelgeneem en goed gevaar ten spyte van ‘n paar struikelblokke wat oor haar pad gekom het.
“Ek het nie gedink dat ek so goed sou vaar nie, aangesien ek ‘n kniebesering opgedoen het,” sê sy nadat sy ‘n algehele tweede plek en ‘n eerste plek in haar oudersomsgroep losgestap het.
“Oor hierdie prestasie was ek heel verbaas en was eintlik bly toe ek na vyf kilometer oor die wenstreep is – nié omdat ek gewen het nie, maar omdat ek klaargemaak het,” sê sy heel beskeie.
Udelle sê sy glo nie sy sou so goed gevaar het as dit nie was vir die aanmoediging wat sy van haar ondersteuners en selfs van mede-atlete gekry het nie.
“‘n Meisie van die Noordwes-provinsie, wat ‘n tweede plek behaal het, het my aangemoedig om vinniger te stap. Na die wedloop het ek sommer uit blydskap vir almal drukkies gegee en hulle ook gelukgewens dat hulle klaargemaak het.”
Sy is ‘n stapatleet sedert sy 13 jaar oud is en oefen deesdae dat dit klap.
“Ek oefen ses dae per week vir sowat ‘n uur en ‘n half en rus op Saterdae. Daar is dae wanneer ek nie lus is om te oefen nie.”
Sy praat nie graag oor haar medaljes en prestasies nie want, “Ek hou nie regtig daarvan om te spog nie”.
Udelle vertel dat sy dit op ‘n deurhanger in haar kamer hang en as mense haar daaroor uitvra en daarna wil kyk sal sy hulle daarheen neem.
Volgende jaar wil sy aan die 10 kilometer-stapkampioenskappe deelneem en sê sy wil ook graag begin voorberei om vir die Olimpiese Spele in 2016 te kwalifiseer.
“Ek wil kyk of ek daarvoor kan kwalifiseer. Dit is een van my grootste drome en as ek nie my beste kon gee vir hierdie een nie wil ek kyk of ek beter kan vaar in die 2020 Spele.”
Haar ouers ondersteun haar baie in haar sport en haar pa Anton sê dat hy baie trots is op haar.
“Sy werk baie hard vir die prestasies wat sy tot dusver behaal het en ek gaan gewoonlik saam met haar na kompetisies toe.”
